ADVERTISEMENT:

 

Petrol tekort nog nie 'n krisis nie

 

News  Date: 23 December 2005

 

Ondanks vrese wat verlede week landswyd ontstaan het dat ‘n ernstige brandstoftekort binnekort ‘n realiteit kan wees, lyk dit nie asof die dorp ernstige probleme tydens die feesseisoen gaan hê nie. Slegs enkele gevalle van brandstoftekorte is aangemeld.

Mnr. Her-Johan Boonzaaier, eienaar van Safari Motors, het gesê dat sy vulstasie geen probleme met brandstoflewering vind nie, behalwe vir ’n kort rukkie verlede Vrydag toe daar nie diesel beskikbaar is nie.

“In hierdie stadium ontvang ek alle brandstof wat ek bestel het op skedule van die depot in Pretoria af,” het hy gesê. “Ek sien ook nie dat daar ’n probleem in die toekoms sal wees nie.” Ten tyde van die skryf van die berig was daar reeds nog ’n bestelling van Pretoria af op pad om afgelewer te word.

Bridge Motors is nog ‘n vulstasie wat volstoom voortgaan om motoriste te bedien.

“Ons was nog nooit leeg vandat die sogenaamde tekort ontstaan het nie,” het mnr. Basil van Vuuren gesê. “Die afgelope week was ons besigste tyd nog, en ons was nooit leeg nie.” Volgens Van Vuuren word hulle bestellings volledig en betyds afgelewer en verwag hulle ook nie ‘n probleem vir die Kerstyd nie.

Ook by Zoutpansberg Motors is daar nie ‘n tekort nie. Bestellings word betyds afgelewer en daar word voorsien dat die lewering van brandstof nie in die nabye toekoms onderbreek sal word nie.

Die enigste vulstasie waar werklike probleme ondervind word, is Mount Fuji Motors. Volgens mnr. Tienie Viljoen was daar teen Maandag slegs ongeveer 2 000 liter loodvrye petrol en 3 000 liter diesel beskikbaar.

“Ons het reeds bestel, maar daar is aan ons vertel dat die depot op Polokwane nie meer brandstof het nie,” het hy gesê. “Ons het egter steeds ons vragmotors gestuur om te gaan kyk of daar wel beskikbaar is.”

 

Written by

Hannes Lee

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines