ADVERTISEMENT:

 

Wapeneienaars het ook ander opsies

 

News  Date: 23 December 2005

 

Die TLU-SA Veiligheid het verskeie advies-opsies vir wapeneienaars wat moedeloos vasgevang word in frustrerende situasies weens die administratiewe sleur en ander probleme wat deur die nuwe wapenwetgewing meegebring word.

Wapeneienaars wat nie daarin kan slaag om betyds al die kunsmatige sleur, voorgeskrewe opleiding, ander vertragings en rompslomp te bowe te kom nie, en desperaat maar net tot elke prys van hul wapens wil ontslae raak om kunsmatige vervolging te voorkom, het verskeie opsies wat hulle kan oorweeg, sê die voorsitter van die veiligheidskomitee van die TLU SA Noord, mnr. Gideon Meiring.

As ‘n bevoegdheidsertifikaat nie betyds bekom kon word nie, nader eenvoudig ‘n bekostigbare instansie soos Spanio Vuurwapen Akademie en poog om ‘n afspraak te kry vir akkreditasie opleiding.

“Indien u nie geholpe raak nie, kry ‘n bewys van intensie (voorneme) en ‘n moontlike afspraak vir ‘n gepaste geleentheid later, selfs later volgende jaar.”

‘n Tweede opsie wat oorweeg kan word is om ‘n advertensie in ‘n plaaslike koerant te plaas en die wapen te adverteer, met vermelding van die tipe, fabrikaat, kaliber en prys en wag geduldig vir ‘n gewillige voornemende koper.

“Onthou, as die koper talm, mag u ook. U huidige lisensie bly geldig tot die einde van 2008 en u mag by gebrek aan navrae of belangstelling besluit om u wapens te behou en later in die proses in te gaan.”

In die geval waar ‘n naasbestaande tans in die buiteland is, moet ‘n geskikte beëdigde verklaring (waarvan ‘n proforma voorbeeld by die TLU beskikbaar is) na die naaste polisiestasie geneem word, waar dit beëdig, gestempel en van ‘n handtekening voorsien moet word.

“Laat ‘n afskrif daar en ontspan,” sê mnr. Meiring.

Waar ‘n eienaar reeds deur die proses van akkreditasie-opleiding is, moet die eienaar na die naaste polisiestasie gaan en probeer om by die proses betrokke te raak.

“Indien die SAPD nie gerat en gereed is nie, kry eerstens die persoon met wie u skakel se naam, nommer en rang en die rede vir die vertraging of gebrek aan vermoë. Hou hierdie besonderhede vir u eie rekord vir latere gebruik.”

‘n Vyfde opsie is om doodgewoon in die voorgeskrewe proses in te gaan en te hoop vir die beste.

“Onthou egter dat u u dan verlaat op ‘n ander se genade en verreken dit,” sê Meiring.

As ‘n eienaar nie kans sien vir die lomp en onseker proses nie en oorweeg om die wapen by die SAPD in te handig, moet die besluit noukeurig oorweeg word.

“Oorhandig dit eerder aan die TLU SA Veiligheid vir aanwending by opleiding. Andersins, oorweeg die opsie om u vuurwapen te adverteer, sodat u steeds u wapen kan hou en minstens ‘n prys vir u wapen ontvang.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines