ADVERTISEMENT:

 

Verbode immigrant op plaas doodgeskiet

 

News  Date: 13 January 2006

 

‘n Saak van moord word tans deur die polisie op Musina ondersoek, na ‘n voorval Maandagoggend (9de) waartydens ‘n onwettige Zimbabwiese immigrant deur ‘n boer op sy plaas doodgeskiet is.

Die voorval het op ‘n plaas in die Weipe-omgewing plaasgevind.

Volgens insp. Jacques du Buisson, skakelbeampte van die SAPD op Musina, is die 54-jarige boer omstreeks 03:10 deur sy honde wakker geblaf. Die boer het met sy .22-pistool na buite gestap en ‘n geraas in ‘n buitegebou gehoor. Hy het die deur oopgestoot, maar nog voor hy die lig kon aanskakel, is hy na bewering deur ‘n onbekende man met ‘n ysterstaaf aangeval.

‘n Worsteling het tussen die boer en sy aanvaller ontstaan, waarna die boer ‘n skoot afgevuur het. Die aanvaller is in sy regtersy getref. Die worsteling het voortgeduur by die buitekamer se deur uit, waar die aanvaller inmekaar gesak en gesterf het. ‘n Tweede verdagte, wat na bewering in ‘n nabygeleë boom geskuil het, het ten tye van die voorval uitgespring en weggehardloop.

Met die polisie se aankoms op die toneel is ‘n sak klere, Zimbabwiese dollars en ‘n Zimbabwiese identiteitsdokument gevind onder die boom waarin die tweede verdagte na bewering geskuil het. Die polisie, asook die weermag, boere en ‘n polisiehelikopter het ‘n soektog geloods na die tweede verdagte, maar sonder enige sukses.

Volgens insp. Du Buisson is nog geen arrestasies in verband met die voorval gemaak nie. Hy sê die saak sal eers ondersoek word, waarna dit aan die kantoor van die Direkteur: Openbare Vervolging gestuur sal word vir beslissing.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines