ADVERTISEMENT:

 

Welkome reën bring dankbare verligting

 

News  Date: 13 January 2006

 

Die deurdringende reën van die afgelope naweek het nuwe hoop en lewe gebring in die donker droogteprentjie van die streek.

Teen Vrydag, 6 Januarie, was die droogte al plek-plek gebreek, “maar na die wonderlike reën gedurende die naweek, het die prentjie heeltemal verander,” het die voorsitter van TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, gesê. Volgens die Soutpansberg Distriks Landbou-unie se kantoor op Makhado (Louis Trichardt) is tussen 40mm en 70mm tydens hierdie tydperk op plekke gemeet. Die munisipale reënmeter in Louis Trichardt het 6.8mm op 3 Januarie getoon, 9.3mm op die 4de, 20.2mm op Maandag (9de) en 3.6mm op Dinsdag (10de).

Die Levubu-omgewing was baie geseën met reën. Vanaf November tot Desember het daar ongeveer 500mm geval. Vanaf Vrydag (6de) het daar ‘n verdere 150mm tot 250mm reën geval, volgens die DLU-kantoor op Louis Trichardt. Dieselfde kantoor berig dat 25mm vir Mopani, 40mm tot 80mm vir Bandelierkop en 80mm vir Alldays gemeet is. Boere van Alldays is gewaarsku om hulle pompe uit die Limpoporivier te verwyder.

Tussen Alldays en Swartwater is daar ‘n goeie 95mm gemeet, nadat die gras gedurende Desember wit gebrand is deur die warm son. Waterpoort het 20mm tot 60mm gemeet, terwyl Linton geen reën gedurende die naweek ontvang het nie. Dit het gelukkig teen Maandag ook daar begin reën.

Die stand van die meeste damme toon al ‘n toename van ‘n paar persentasiepunte. Die damvlakke, asook die reënval in die opvanggebiede, is gemeet op 3 en weer op 9 Januarie. Die Albasini se damvlak het vanaf die 3de met 0.37% gestyg tot 37.34% en die damvlak in meters het ‘n rapsie gestyg vanaf 12.38 tot 12.44 meter. Die reënval was 48.0mm op 3 Januarie en 55.2mm op 9 Januarie.

Die Spiesdam, wat in November verlede jaar op 100% gestaan het, vertoon steeds goed. Die Nandonidam het gestyg tot 44%, terwyl die damvlak in meters met ‘n groot sprong van 3.29m gestyg het tot 15.72 meter. Die reënval daar aangeteken op die 9de was 209mm.

Die Vondodam se vlak is die hoogste van alle damme in die Levuvhu/Letaba area en staan op 74.7%. Dit het 3.91% gestyg vanaf die vorige week. Die Middel Letaba dam het meer as 6% bygekry en staan op 35.61%.

Die Nzheleledam se opvanggebied het geen reën die vorige week gehad nie, maar groot neerslae met ‘n totaal van 94mm is na die naweek gemeet. Die Nzhelele dam het met 3.75% gestyg tot 34.3%. Die Luphephe- en Nwanedidamme het op 3 Januarie onderskeidelik op 46% en 47% gestaan.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines