

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 January 2006
Verskeie padongelukke in en om die dorp het weereens ‘n demper geplaas op feesvieringe die afgelope feestydperk.
‘n Gru-ongeluk op Vrydag, 23 Desember, het die lewens geëis van twee inwoners, me. Fransie Basson (36) en me. Annette Schoeman. Die oorledenes was met ‘n klein bakkie na Levubu op reis om die Kerstyd saam met vriende deur te bring. Onderweg het hulle egter met ‘n aankomende tenkwa van Zoutpansberg Petroleum gebots.
Lede van die TLU se plaaswag was eerste op die toneel en het die verkeerslyn probeer herlei, weg van die ongelukstoneel af. Die nooddienste het sowat 40 minute daarna by die ongeluk opgedaag. Die bakkie was ‘n algehele wrak. Fransie en Annette is op slag dood.
Volgens vriende op Levubu, Vernon en Gertjé Monk, sou Fransie en Annette eers die volgende dag by hulle opdaag, aangesien Fransie die Saterdag nog moes werk. Fransie het egter Saterdag afgekry en het besluit om die Monk-egpaar Vrydagaand te gaan verras. Sy het omstreeks 20:45 die noodlottige aand nog telefonies met die Monk-egpaar gepraat en hulle ingelig dat sy en Annette hulle die volgende dag sou sien. Kort daarna het hulle egter in die pad gespring. Die verrassingsbesoek het toe nooit plaasgevind nie.
Die Monk-egpaar het eers Saterdag die tragiese nuus ontvang. Fransie was al vir sewe maande by Bridge Auto werksaam en volgens ‘n kollega, mnr. Abrie Wepener, was Fransie goed uitgeknip vir haar pos as voorraadbeheerassistent. Fransie se liggaam is na haar familie in Upington toe gevlieg om begrawe te word.
In nog ‘n ongeluk verlede week en Woensdag is ‘n inwoner van die dorp, me. Merinda van der Walt, beseer nadat ‘n voertuig van die polisie se blitspatrollie teen hoë spoed met haar voertuig gebots het op die hoek van Stubbs- en Krugerstraat. Die polisievoertuig het na impak omgeslaan en gerol. ‘n Telefoonpaal is in die proses afgebreek. Volgens Inspekteur Daniël Ndlovu, plaaslike polisiewoordvoerder, het die polisievoertuig gereageer op ‘n klag van gewapende roof naby die Mountain View Hotel uit op die N1 noord. Dit is egter nie duidelik wat die oorsaak van die ongeluk was nie, aangesien al die betrokkenes in daardie stadium hospitaal toe geneem is. Die een polisielid het talle beserings opgedoen waaronder ‘n gebreekte arm, terwyl die ander met ligte beserings daarvan afgekom het. Me. Van der Walt is ook beseer.
In nog ‘n ander ongeluk in die vroeë oggendure van Donderdag, 5 Januarie, het mnr. Zyl Tait baie ernstige beserings opgedoen, nadat hy teen ‘n boom in Krugerstraat gebots het. Dit is onbekend wat die oorsaak van die ongeluk was. Teen druktyd het mnr. Tait nog aangesterk in die hospitaal in Polokwane.

ADVERTISEMENT:
