

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 January 2006
Die Levubu/Thohoyandoupad het op 7 Januarie nog ‘n lewe geëis toe die 23-jarige Johan Martin oorlede is ná ‘n motorongeluk in digte mis en reën.
Johan was op pad vanaf Thohoyandou se kant na sy ouerhuis wat geleë is op die plaas Boomryk, sowat 30km vanaf Makhado (Louis Trichardt). Ongeveer ‘n kilometer van die plaashek af waar die pad ‘n draai van amper 90 grade maak, het sy bakkie op die gladde pad in die digte mis die pad verlaat en reguit aangehou en die bloekombome getref. Die dak van die voertuig is weggeskeur en Johan het ernstige hoofbeserings opgedoen. Johan was die enigste insittende in die bakkie.
Die ongeluk het Saterdag omstreeks 02:00 plaasgevind. Gelukkig het daar vriende van Johan ‘n ent agter hom gery. Hulle was almal saam by ‘n afskeid wat vir Johan gereël is, omdat hy eersdaags sou vertrek het na Nieu-Seeland. Die vriende het gesien dat daar iets in die bloekombos brand en het stilgehou, waarop hulle Johan in sy voertuig aangetref het, met sy veiligheidsgordel aan. Na ‘n gesukkel om hom los te kry, het hulle hom weggesleep van die voertuig af, sonder dat hy brandwonde opgedoen het. Daarna het die bakkie heeltemal uitgebrand.
Johan is per ambulans na die Louis Trichardt Gedenkhopitaal geneem. Die familie was dankbaar dat hy daar deur dr. Anton Stroebel gestabiliseer is. Om 06:30 dieselfde oggend het Johan se hart gaan staan, as gevolg van die geweldige drukking op sy brein.
Johan is ‘n oudleerling van die Hoërskool Louis Trichardt en was werksaam as ‘n rekenaartegnoloog in Polokwane. Hy het elke naweek sy ouers, Marius en Ronel Martin, besoek. Marius is bestuurder by Royal Macadamia en Ronel is ook daar werksaam. Johan se oupa en ouma Martin is ook daar woonagtig.
Die familie onthou Johan as ‘n besondere liefdevolle persoon, wat by elke moontlike geleentheid vir sy ouers én grootouers gesê het dat hy vir hulle lief is. Johan se gesinsbande was vir hom top prioriteit en hy en sy broer, Jan (21) was ook baie geheg aan mekaar.
Johan word Vrydag om 11:00 begrawe vanuit die Agapé Christensentrum deur ds. Sampie van Niekerk.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
