ADVERTISEMENT:

 

Wyle mevrou Edna van Heerden.

Gemeenskap geruk deur sinnelose moord

 

News  Date: 13 January 2006

 

Vrae oor die moordmotief, die “professionele” ondersoekvermoë van die plaaslike SAPD en die bevoegdheid van die polisie se kommunikasie- en skakeldiens in die Vhembe-distrik duik nou op, na die oënskynlik heeltemal sinlose moord op mev. Edna van Heerden (53).

Mev. Van Heerden is op 2 Januarie by haar plaaswoning op die Rondebosch hoewes (langs die Ledig-pad) koelbloedig doodgeskiet deur ‘n misdadiger wat deur lede van die gemeenskap verbind word met ‘n reeks onlangse misdade in die omgewing van Makhado (Louis Trichardt).

Mev. Van Heerden, ‘n bekende en minsame persoon, is getref deur ‘n koeël wat met ‘n ligte kaliber pistool op haar moeder afgevuur is deur ‘n aanvaller wat skielik by die plaashuis op hulle afgestorm het. Mev. van Heerden het die booswig sien storm en haar bejaarde moeder, mev. Ona van Heerden (76), by die plaashuis se agterdeur na binne gehelp, terwyl laasgenoemde vanaf haar woonstel op die werf onderweg was na die huis. Die misdadiger het na die voorval sonder meer op die vlug geslaan.

Gesinslede het vandeesweek in ‘n onderhoud vrae geopper oor die wyse waarop die misdaadtoneel op onprofessionele wyse deur lede van die SAPD onbeskerm gelaat is.

“’n Private speurder, wat ons ingeroep het om te help met die ondersoek, het later moontlike bewysstukke op die toneel gevind wat geheel en al deur die polisie verontagsaam is,” het ‘n familielid gesê. Twee mense wat later deur die private ondersoeker as verdagtes aangekeer is, het by die polisiestasie ontvlug uit die private voertuig waarmee hulle daarheen gebring is.

Volgens gesinslede was die aanvaller lank en skraal met ‘n effens ligte gelaatskleur. Hy was tydens die voorval in kakieklere geklee. Navrae in die omgewing dui daarop dat dit moontlik dieselfde persoon kan wees wat by nog ‘n onlangse plaasaanval en by ‘n skietvoorval naby woonkwartiere in die omgewing betrokke was.

Die amptelike polisievrystelling oor die voorval, wat vandeesweek op versoek beskikbaar gestel is, lui (vertaal): “Die Makhado polisie het ‘n moordsaak geopen na die moord op ‘n 53-jarige vrou op 23 Rondebosch plaas op 2 Januarie om 17:00. Volgens inligting ontvang, word dit beweer dat die oorledene, wat tesame met haar ma en haar man tuis was, honde buite hoor blaf het. Voorts word beweer dat die oorledene die deur oopgemaak het om ondersoek in te stel en sy is een keer in haar nek geskiet en het in die kombuis neergeval en gesterf ...”

Dié skraps amptelike polisieinligting, wat meer as ‘n week na die voorval op versoek verstrek is, bevat belangrike weglatings (selfs die naam van die oorledene ontbreek nog) en verskeie basiese onjuisthede, terwyl geen melding gemaak word van die beskrywing van die verdagte wat deur gesinslede verstrek is nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines