

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 January 2006
Die vestiging van ‘n konsulaat met ‘n arbeidsburo op Beitbrug kan meehelp om die probleem van onwettige Zimbabwiese arbeiders op plase in die noorde van die Limpopo Provinsie op te los.
‘n Afvaardiging van TLU SA het vandeesweek dié voorstel aan die hand gedoen tydens ‘n ontmoeting op hoë vlak met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese Departemente van Landbou.
Die Suid-Afrikaanse Minister van Landbou en sy Zimbabwiese eweknie het besoek gebring aan Musina om aandag te gee aan die toenemende probleem van onwettige immigrante wat op plase in diens geneem word.
Die onwettige indiensneming van Zimbabwiese arbeid word allerweë deur die owerhede en deur georganiseerde landbou afgewys. Die praktyk is ongewens omdat dit onaanvaarbare veiligheidsrisiko’s inhou en ook die moontlikheid vir onaanvaarbare uitbuiting van die arbeiders skep. Die betrokke owerhede het georganiseerde landbou genader om insette vir ‘n oplossing te lewer.
Die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring, het by navraag gesê hy is onrustig oor die situasie wat geskep word deur die teenwoordigheid van die reuse getalle onwettige immigrante wat die land onbeheerd binnestroom.
“Ons hou nie van die teenwoordigheid van die onwettige immigrante in Suid-Afrika nie. Daar is egter vanuit ‘n ekonomiese oogpunt ‘n behoefte op plase langs die noordgrens om die arbeid vanuit Zimbabwe te benut, omdat die plase ver van ander beskikbare geskikte arbeidsbronne geleë is. Om hierdie rede is daar in die verlede beding vir die beheerde benutting van die Zimbabwiese arbeidsbron, veral op plase noord van die Soutpansberg. Sekere toegewings is gemaak. Die bestaande voorgeskrewe prosedure vir die wettige indiensneming van Zimbabwiërs wat die land binnekom, word gekenmerk deur heelwat rompslomp. Dit is in verskeie opsigte onbevredigend en onprakties en lei gevolglik tot onaanvaarbare misbruike. Ons glo dat die vestiging van ‘n konsulaat op Beitbrug die veiligheidsrisiko aansienlik kan beperk en terselfdertyd die behoefte van die boere en die belange van die arbeiders op ‘n meer bevredigende wyse kan dien.”
Die vestiging van so ‘n konsulaat sal dit moontlik maak vir geregistreerde werkgewers om op ‘n ordelike wyse met behulp van ‘n arbeidsburo geskikte arbeiders bekom, wat geregistreer, gekeur en geprosesseer kan word voordat hulle die land binnekom.
Volgens die bestaande vergunning kan mense wat reeds die land oor die grens binnegekom het, wettig in diens geneem word, nadat hulle vir registrasie na Sibasa gebring is.
Die proses is beskryf as onnodig ingewikkeld, duur en tydrowend en spreek ook nie die toenemende probleem van onwettige instroming aan nie.
Duisende mense wat die land onwettig vanuit Zimbabwe binnekom en deurbeweeg na Gauteng word maandeliks teen hoë koste gerepatrieer. Onwettige immigrante word op daaglikse grondslag in en om Makhado (Louis Trichardt) aangekeer en per pad na Musina en na Beitbrug gebring vir repatriasie, terwyl spesiale treine elke week nog etlike honderde onwettige immigrante vanaf Gauteng na die grenspos terugbring.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
