ADVERTISEMENT:

 

Bo: ‘n Gelukkige ouerpaar van die Kaap bewonder hul eie baba pas nadat ‘n plaaslike surrogaatmoeder hom in die lewe gebring het. Onder: Adri Venter van Louis Trichardt, wat vir ‘n vriendin as surrogaatma opgetree het.

'n Kind vir my vriendin

 

News  Date: 20 January 2006

 

Die geluk en die skitter in die oë van die ouers wat hul eie babatjie vashou, het alles die moeite werd gemaak vir surrogaatmamma, Adri Venter. “Dit gee my ‘n warm gevoel; ek voel ek het iets goeds gedoen vir my naaste,” sê Adri.

Adri, ontvangsdame by ‘n bekende haarsalon in die dorp, het op 9 Desember verlede jaar die lewe geskenk aan die baba wat sy gedra het vir ‘n goeie vriendin.

Adri is al meer as 10 jaar bevriend met Berné Wium wat in Durbanville in die Kaap woonagtig is. Adri het voorheen in die Kaap gewerk as sekretaresse by die mediese navorsingsraad. Berné (37) en haar man Gert (35) het na ses miskrame en baie behandelings uitgevind dat Berné se baarmoeder nooit ‘n baba voluit sou kon dra nie, aangesien die kleintjie nie suurstof kry nie.

Met elke miskraam het Adri saam met haar vriendin oor die telefoon gehuil. Adri het ook besef dat aanneming vyf tot ses jaar kan neem en dan is haar vriendin al oor die veertig.

Die idee van surrogaatmoederskap het by Adri posgevat.

“Ek kan mos vir haar dra, ek is gesond en ek het drie kinders van my eie,” is die gedagte wat by haar opgekom het. In 2003 het sy dit vir die Wiums genoem.

Adri sê dat Gert en Berné in Desember 2004 van die Kaap af gevlieg en Louis Trichardt toe gekom het om haar in die oë te kyk en seker te maak dat sy werklik kans sien daarvoor. Hulle het gereël dat alle onkoste deur hulle gedra sou word.

Verlede jaar Maart het Adri Kaap toe gegaan vir die inplanting van die embrio. Die reg noem dit volledige surrogasie waar die embrio van die genetiese ouers in die baarmoeder van die surrogaatvrou geplaas word om vir die volle swangerskaptydperk te dra.

Adri se oudste kind, die sewejarige Marco, het dit mooi opgesom. Iemand het hom in die straat saam met sy swanger ma raakgeloop en hom gevra of hulle ‘n babatjie gaan kry.

“Nee Tannie, dis nie my ma se babatjie nie. My ma is net die huis,” het Marco geantwoord.

Die swangerskap het goed verloop.

“Ek het van die begin af geweet waarvoor ek my inlaat en ek het my oog net op die eindpunt gehou. Maar ek was huge!" lag dié vrolike en onselfsugtige vroutjie.

Omdat haar drie kinders, Marco en sy twee sussies, Hilde-Marie (5) en Loandri (amper 3) almal normaal gebore is, was dit die plan dat die 30-jarige Adri normaal sou geboorte skenk.

In November het die dokter egter besluit om weens die ligging van die baba ‘n keisersnit op 13 Desember te doen. Die kleinding was egter te haastig om sy ouers te ontmoet en het ander planne gehad.

Adri het op Woensdag ,7 Desember, halfdag gewerk. Die Donderdagaand het sy nog lekker gevoel, maar die Vrydagoggend het sy geweet iets gaan gebeur. Om 14:00 het sy haarself in die teater bevind vir ‘n noodkeisersnit en om 14:14 het ‘n pragtige seuntjie van 2,6kg sy eerste lewenslig aanskou.

Die dag in die algemene hospitaal en die drie dae in die privaatkliniek was Adri wetlik nie toegelaat om die baba te sien nie, want hy moes deur sy eie ouers aangeneem word. “Ek het die naweek in die kliniek ‘n bietjie hartseer gevoel; ek wou hom net sien, ek hoef hom nie eers vas te gehou het nie,” het Adri gesê.

“Die Maandagaand, die 12de, het ek hom die eerste keer gesien. Ek was ‘n bietjie bewoë en heeltemal woordeloos. Maar om hulle twee met die baba te sien en hulle geluk, het dit vir my alles die moeite werd gemaak,” sê Adri. Dieselfde dag was ook Adri se man se verjaarsdag. “Ons is al ‘n tyd uitmekaar, maar hy vir my gesê dat hy sy hoed vir my afhaal vir wat ek gedoen het”.

Twee dae later is die hofprosedure van Adri se kant af afgehandel.

“Ek moes net so ‘n dik pak papiere teken om die baba af te teken. In die Kaap sal die finale aanneming afgehandel word en dan sal baba Venter baba Wium word.”

Surrogaatmoederskap en die ooreenkoms tussen die surrogaatmoeder en die opdraggewende ouers behels baie etiese en regsaspekte. Die voorgestelde Wetsontwerp op Surrogaatmoederskap van 1994 stel riglyne waarbinne surrogaatmoederskapooreenkomste kan funksioneer, maar dit het tot op hede nog nie gerealiseer nie. Adri moes dus die baba afteken vir aanneming.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines