

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 October 2016
Stel jou voor jy is onskuldig, maar die polisie hou vol jy is een van die streek se mees gesoekte misdadigers. Dit is presies wat met die broodwinner van ‘n Louis Trichardt-gesin gebeur het.
Nicolas Botha (37) het sowat drie maande terug getrek na Louis Trichardt, en was geskok om uit te vind dat daar ‘n lasbrief vir arrestasie teen hom uitgereik is. Vriende het toevallig sy “gesoek” foto gesien in die aanklagkantoor van die Makhado Polisie en hom daarvan gesê. Volgens die plakkaat het die polisie vir Nicolas gesoek omdat hy versuim het om in die plaaslike hof te verskyn op ‘n klag van seksuele aanranding.
Dié klag, het Nicolas hierdie week aan die Zoutpansberger verduidelik, is kwaadwillig teen hom gemaak ná ‘n familietwis wat te ver gegaan het in 2014. Die klaagster kan egter nie in hierdie stadium geïdentifiseer word nie. Destyds, het Nicolas gesê, het hy ‘n prokureur aangestel om hom te verdedig en die saak is in dieselfde jaar uit die hof gegooi. Hy het die saak as afgehandel beskou, en ook intussen na Mokopane verhuis.
Nadat Nicolas uitgevind het van die lasbrief teen hom ná sy terugkeer van Mokopane, het hy homself gaan aanmeld by die Makhado Polisiestasie, sodat die saak uitgesorteer kon word. Hy is egter summier toegesluit in die aanhoudingselle. As dit nie was vir sy familie wat regshulp gaan soek het nie, sou Nicolas ‘n hele naweek agter tralies moes spandeer. Hy is na ‘n paar uur, ná ingryping van sy prokureur, vrygelaat op ‘n waarskuwing om in die Louis Trichardt Distrikshof te verskyn.
Nicolas se saak is toe oorgeplaas na die streekhof, waar die polisie sy saak nagegaan het en tot die slotsom gekom is dat daar nie genoegsame bewyse is om Nicolas te vervolg nie. Volgens Nicolas het die polisie net ‘n verklaring gehad van die klaagster, maar nie een van hom nie. ‘n DNA-monster is tydens sy arrestasie by hom geneem, maar dit kon glo nie getoets word teen die klaagster nie. Dit het daartoe gelei dat die saak op 28 September van die hofrol geskrap is, en Nicolas vry en onskuldig is.
Alhoewel Nicolas verlede week persoonlik in die hof was om te verseker dat die saak regtig dié keer afgehandel is, beskou die Makhado polisie hom egter steeds as ‘n gesoekte verdagte.
Maandag was die “gesoek” plakkaat, met Nicolas se foto, naam en die klag van seksuele aanranding daarop, nog opgeplak op die aanklagkantoor se kennisgewingbord. Die polisie is gevra om dit te verwyder, maar het steeds geweier, selfs nadat ‘n prokureursbrief op hulle beteken is wat die hof se beslissing bevestig. “Die polisie is besig om my naam en familie skade aan te doen. Die vernedering waardeur ons nou gaan, is vreeslik,” het Nicolas gesê.
Die koerant het konst. Irene Radzilane, plaaslike polisiewoordvoerder, genader vir kommentaar. Sy het Dinsdag bevestig dat daar steeds ‘n lasbrief geregistreer is op die polisie se stelsel en dat dit die rede is hoekom die plakkaat in die aanklagkantoor nie bloot net verwyder kan word nie. Radzilane het ‘n beroep op Nicolas gedoen om self na die polisiestasie te gaan, sodat die saak opgelos kan word.
Intussen het die provinsiale polisie Maandag ook ‘n waarskuwing uitgereik aan die publiek om nie vals klagte te gaan lê by die polisie nie. Buiten dat dit ‘n kriminele oortreding is, het lt-kol. Moatshe Ngoepe gesê dat sulke vals klagtes waardevolle tyd en hulpbronne van die polisie mors. In Nicolas se geval, het hy bevestig, gaan hy beslis die polisie dagvaar omdat hulle hom onnodig gearresteer en probeer vervolg het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
