

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 January 2006
Die ineenstorting van gesondheidsdienste (vir mens en dier) in Zimbabwe, is een van die grootste mensgemaakte tragedies op die vasteland van Afrika en hou ernstige gevare vir Suid-Afrika in, sê die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert.
Hy het in ‘n mediavrystelling kommer uitgespreek oor die verslegtende gesondheidstoestand in Zimbabwe na bevestigde berigte dat voëlgriep (H5N2) in volstruise in Zimbabwe gevind is. Dit is dieselfde stam wat in die Oos-Kaap ernstige probleme vir volstruisboere veroorsaak het. Dit is nie die H5N1 stam wat mense kan aantas nie.
Mnr. Joubert sê die uitbraak van miltsiekte en bek-en-klouseer kom ook nog sporadies voor in Zimbabwe. Hy sê die ineenstorting van gesondheidsdienste in Zimbabwe laat landbouers in Suid-Afrika in die besonder uiters kwesbaar, omdat die gevaar bestaan dat die gevaarlike siektes na Suid-Afrika kan oorspoel.
Mnr. Joubert sê vleissmokkelaars kan ‘n rol speel in die verspreiding van die siektes. Hy sê dit wil voorkom asof die verskerpte optrede by die Beitbruggrenspos gedurende die Kerstyd, smokkelaars effens aan bande gelê het.
“’n Verbod op die invoer van pluimvee uit Zimbabwe kan die probleem help voorkom, mits die verbod toegepas word en omkopery nie gaan plaasvind nie,” sê mnr. Joubert.
Inmiddels het veeartsenydienste in Zimbabwe bevestig dat volstruise op twee plase in Matebeleland Noord positief getoets het vir voëlgriep. Toetse op alle ander volstruisplase in Zimbabwe was negatief. Alle volstruisplase in Zimbabwe bly egter intussen onder kwarantyn en bio-sekuriteitsmaatreëls is oral verskerp.
‘n Amptelike inligtingstuk van die afdeling vir lewende hawe en veeartsenydienste van Zimbabwe se departement van landbou sê hoenders wat in eksperimente in kontak gebring is met volstruise wat positief toets vir voëlgriep, het gesond gebly. Alle hoendermonsters wat tot dusver ondersoek is, het negatief getoets vir die voëlgriep virus. Tot dusver was daar ook nog geen kliniese siektetekens van voëlgriep by volstruise of by enige ander voëlsoorte in die land nie.
“’n Hoë vlak van bewustheid in verband met voëlgriep word in alle dele van die land gehandhaaf,” sê hoofdirekteur S. K. Hargreaves van die afdeling lewendehawe en veeartsenydienste van Zimbabwe se departement van landbou. Hy het bevestig dat drie produsente van dag-oud kuikens in Zimbabwe reeds geregistreer is as voëlgriepvry ingevolge die internasionale voorskrifte insake dieregesondheid.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
