ADVERTISEMENT:

 

Kommer oor toename in malaria-gevalle

 

News  Date: 20 January 2006

 

Malaria is ‘n lewensgevaarlike siekte, maar kan genees word as dit vroegtydig gediagnoseer word. Enigiemand wat koorsig is of griepsimptome toon, moet so gou moontlik onder mediese sorg gebring word, lui ‘n waarskuwing wat uitgereik is deur die Provinsiale Departement van Gesondheid.

Die waarskuwing het gevolg, terwyl malariagevalle in die Vhembe distrik in die eerste week van Januarie vanjaar epidemiese afmeting begin aanneem het. Meer as 260 gevalle is in die tydperk in Vhembe aangemeld. Die vasgestelde drumpel vir die normale voorkoms van malaria in die distrik dié tyd van die jaar is 220 gevalle per week.

Mnr. Patrick Seloba van die provinsiale kommunikasiedienste in die kantoor van die premier het egter vandeesweek by navraag gesê die situasie is besig om dramaties te verbeter. ‘n Verskerpte malariabestrydingsveldtog is reeds besig om beduidende resultate te toon. Hy sê spanne in die belangrikste gevaargebiede in die provinsie het reeds 700 000 strukture bespuit in die omvattende stryd teen muskiete.

Volgens mnr. Seloba was daar die afgelope week reeds ‘n skerp afname in die getal aanmeldings van malariagevalle. Die aantal gevalle sedert Desember verlede jaar is ook reeds heelwat minder as in die vorige ooreenstemmende tydperk. Geen nuwe ernstige gevalle is die afgelope weke aangemeld nie en die pasiënte wat vroeër intensiewe sorg moes ontvang, se toestand het gestabiliseer en hulle is buite gevaar.

Verdere gevalle van malaria kan egter verwag word na die onlangse goeie reënneerslae. Luidens ‘n vroeëre verklaring deur die Provinsiale Departement van Gesondheid en Welsyn was daar sedert die einde van Desember ‘n groot toeloop by gesondheidsgeriewe, veral na die goeie reënneerslae in die noordoostelike dele van die Vhembe distrik. Dit het toe gelei tot paniek by sommige klinieke in die distrik, wat kwalik kon byhou met die behandeling van die groot getal pasiënte. Volgens die amptelike nuusvrystelling is die situasie egter onder beheer gebring deur die ingryping van die departement en is planne in plek om te verseker dat alle malariapasiënte vroegtydig gediagnoseer en behandel kan word voordat ernstige, dodelike komplikasies kan intree.

Kits diagnostiese toetse is by alle klinieke en ander gesondheidsentrums beskikbaar om te verseker dat malariagevalle onmiddellik gediagnoseer kan word. Behandeling is ook by al hierdie sentrums beskikbaar om die spoedige hantering van pasiënte te verseker.

“Ons versoek mense dringend om dadelik die naaste kliniek, hospitaal of dokter te besoek as hulle griepagtige simptome ontwikkel, soos koors, hoofpyn, pyne in spiere en gewrigte, diarree, uitputting, sweet en kouekoorsaanvalle. Die belangrikste boodskap in hierdie stadium is dat malaria ‘n geneesbare siekte is,” lui die verklaring.

Die distrikte Vhembe, Bohlabela en Mopani is volgens die departement bekend as hoë-risiko malaria streke, waar die siekte seisoenaal voorkom. Daar is min gevalle in die winter, maar dit neem toe gedurende die reënseisoen in die warm somermaande. Gevolglik kan ‘n toename in gevalle nog steeds in die huidige seisoen verwag word. Oop waterpoele, tesame met warm weerstoestande, is bevorderlik vir die uitbroei van muskietlarwes.

Departementele spuitspanne is gevolglik volstoom besig met die bespuitingsprogram wat in die meeste van die hoë-risiko gebiede grotendeels afgehandel is. Die departementele malariabeheerprogram behels 42 spanne en 840 voltydse en tydelike beamptes wat die malaria beheeraksies uitvoer. Daar word ook ten nouste saamgewerk met buurlande om hulle te help om hul beheerprogramme te versterk. Gedurende die huidige finansiële jaar is R68 miljoen toegewys vir malariabeheer in die provinsie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines