

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 August 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die tragiese nuus van Johannes Stephanus Oosthuizen (22), beter bekend as Hansie, se verdrinking in die Teemsrivier in London het skokgolwe deur die dorp gestuur.
Hansie, bekende rugbyspeler en oudleerling van Hoërskool Louis Trichardt, het Sondagoggend omstreeks 01:30 in die Teems geval, nadat hy sy balans verloor het waar hy en ‘n vriend saam op ‘n muurtjie gesit het. Han-sie het nog met sy kenmerkende optimisme gelag en geskree dat hulle moet gou maak want die water is baie koud. Die reddingsboei wat uitgegooi is was egter te laat. Hy het onder die ysige donker rivierwater verdwyn.
Hansie se liggaam is eers Dinsdag in die haainette gevind waar die Teemsrivier by Southend in die Noord-see invloei. Sy ouers, Hannes en Heila Oosthuizen, het Sondagoggend na kerk die skoktyding ontvang.
‘n Geskokte en hartseer Hannes het Dinsdagaand nog nie woorde gehad om die tragedie van sy seun se dood te beskryf nie. Heila sê dat soveel mense hulle geskakel en ondersteun het.
“‘n Mens het besef hoeveel Hansie vir almal en veral die groot groep vriende in London beteken het. Ouers van sy vriende het van heinde en verre geskakel,” sê Heila. Tydens die onderhoud het die telefoon onophoudelik gelui. Hannes en Heila sê baie dankie vir die gemeenskap vir hulle wonderlike ondersteuning.
Hansie het in 2000 gematrikuleer en was ook op die leerlingraad. Vanaf 2002 het Hansie in Engeland gaan werk, eers in Stratford-on-Avon en vanaf September 2003 in London. Een van die dinge wat Hansie wou doen met die geld wat hy gemaak het, was om ‘n trok vir sy pa te koop. So onthou almal vir Hansie; hy wou altyd ander help.
“Hansie se grootste ideaal was om terug te kom en vir die Blou Bulle rugby te speel,” sê Hannes, wat voel dat hy nie net ‘n seun verloor het nie, maar ook sy beste vriend. Hansie was alreeds op skool gekies vir die Blou Bulle ontwikkelingspan. Hansie en sy vriende het juis na Saterdag (14de) se rugbywedstryd gekyk voordat hy die aand verdrink het.
Nou begin die ingewikkelde proses om Hansie se liggaam in Suid-Afrika te kry.
“Die Londonse polisie het ons wonderlik ondersteun,” sê Hannes. Die doodsondersoek moet eers daar afgehandel word, waarna daar met die ambassade reëlings getref moet word. Die liggaam moet gebalsem word en dan aangestuur word. Gelukkig is Hansie se liggaam nie beskadig nie, want in die geval van erge verminking word die liggaam nie aangestuur nie. Intussen het Hansie se vriende in London dadelik ‘n fonds gestig om te help met die onkoste. Hansie se maat, Johan Breytenbach, wat saam met hom op die muurtjie gesit het, beplan om dadelik terug te kom. Baie ander sal ook terugvlieg vir die begrafnis. Heila sê dat die begrafnisreëlings hopelik in volgende week se koerant bekend gemaak sal word.
Hansie laat sy vader Hannes, moeder Heila en suster Michelle agter.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
