

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 October 2016
Met verspreide donderbuie wat die afgelope week plek-plek in die Soutpansberg uitgesak het, bestaan die hoop dat vanjaar se reënseisoen anders sal wees as die vorige paar jaar.
Anders, in die sin dat reënvalpatrone weer sal normaliseer en boere weer met verwagting kan uitsien na ‘n goeie jaar. Die Soutpansberg is, soos baie gebiede elders in die land, steeds vasgevang in ‘n ernstige droogte en vir baie boere het hierdie droogte reeds krisisafmetings aangeneem.
“Dit was die eerste donderweer van die seisoen, maar dit was nie indrukwekkende donderkoppe nie,” het Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, gesê na afloop van Saterdag se donderstorms oor die streek. Reënvalsyfers oor die streek het gewissel van 5mm tot 20mm. “Iewers het iemand gepraat van 50mm,” het Hoffman gesê.
Tog is daar dankbaarheid vir elke druppel wat val. “Dit is egter ‘n goeie ding. Dit was warm en bedompig en dit het gereën. Nadat die reën weg is, was die bedompigheid steeds daar,” het Hoffman gesê. Hy het verwys na hoe anders dinge met die aanvang van verlede jaar se reënvalseisoen gelyk het, waar dit ontsaglik warm was in die dag en weer koel in die aand – nie gunstige toestande vir reën nie.
Tradisioneel, het Hoffman gesê, dien September en Oktober gewoonlik as aanloop tot goeie reën ten opsigte van die opbou van donderstorms. Hy het gesê dat hyself oor ‘n periode van 20 jaar bepaal het dat 21 November die keerdatum is vir die reën om te begin. “Dit gee ons omtrent ‘n maand, so vier of vyf weke, dan moet die reën begin. Die volgende twee weke sal ‘n goeie aanduiding wees van wat ons kan verwag wat die opbou van donderstorms betref,” het hy gesê.
Presies ‘n jaar gelede het Hoffman gesê die huidige droogtetoestand in die land herinner sterk aan die droogte wat van 1983 tot 1994 geduur het. Die situasie het weinig verander, maar die huidige weerstoestande lyk tans goed vir ‘n beter reënseisoen.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se seisoenale langtermyn weervoorspelling vir die periode Oktober 2016 tot Februarie 2017, dui huidige voorspellings op die ontwikkeling van gunstige toestande vir bogemiddelde reënval in Suid-Afrika nader na die middel-somer seisoen. Dié gunstige uitkyk op die toekoms kom egter met ‘n vermaning. Volgens die Weerdiens is die vlak van onsekerheid vir die ontwikkeling van hierdie gunstige reënvalomstandighede steeds hoog, want meeste van die klimaatsisteme wat die land se weer beïnvloed het nog nie duidelik gemanifesteer in guns van hul langtermyn voorspelling nie. Derhalwe het die Weerdiens gewaarsku dat, ongeag die belofte van ‘n goeie reënseisoen, die huidige droogtetoestand steeds in gedagte gehou moet word aangesien die situasie steeds delikaat is. “Soos altyd word dit hoog aanbeveel dat die medium- en korttermyn weervoorspellings dopgehou moet word vir die ontwikkeling van toestande wat die verwagtinge van die huidige voorspelling kan verander of versterk,” het die Weerdiens gesê.
Vir veral wild- en veeboere in die Soutpansberg kan goeie reënneerslae nie vinnig genoeg kom nie. “Ons is in ‘n verskriklike drukgang en in ‘n kritieke tyd. Ouens begin nou ernstig voer. Noord van die Soutpansberg het die veld geen dra-krag meer nie, want daar is niks. Die wild vermaer en veral koedoes kry swaar. Daar is al vrektes,” het Hoffman gesê.
Wat bogenoemde betref, is reën veral nodig vir weiding. “Ons is nou in ‘n taai tydperk. Die volgende vier weke gaan deurslaggewend wees. Die prys van lusern wys hoeveel druk daar is. Die aankoopprys is baie hoog en is die hoogste nog wat ek gesien het,” het Hoffman gesê.
Wat makadamias betref het Hoffman gesê die oesverwagting lyk nie goed nie vanweë die nat en koue toestande tot laat in September. “Nagtemperature het geval tot onder 12°C. Dit is nie goeie weer vir vrugset nie. As gevolg van die natterige weer kon stuifmeel ook nie mooi oorgedra word nie,” het Hoffman gesê. Dit is buiten die feit dat hulle reeds uit ‘n droë seisoen kom. Die prentjie lyk bietjie beter vir die streek se avokadoboere. “Die ouens sê dit lyk nog mooi,” het Hoffman gesê.
Die gebrek aan reën het nie net ‘n uiters negatiewe impak op oeste en weiding nie. “Nog iets wat baie druk uitoefen, is ons grondwater. Daar was die laaste drie jaar maar min aanvulling, want ons het nie deurdringende reën gehad nie. Ons het nou ‘n periode van deurdringende reën nodig,” het Hoffman gesê.
Te midde van die droë toestande bly hy egter hoopvol. “Dit hou ons nederig. Wat nou gebeur is nie ‘n vreemde situasie nie, ons is vertroud daarmee. Hierdie tyd van die jaar is tradisioneel die moeilikste. Die probleem is dat ons juis uit ‘n droë jaar kom,” het Hoffman gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
