ADVERTISEMENT:

 

Waar mag jy 'n kroeg bedryf?

 

News  Date: 27 January 2006

 

Die groot omstredenheid rondom die oopmaak van ‘n gastehuis met ‘n kroeg in ‘n residensiële area, het die vraag laat ontstaan of almal dan nie weet wat bedryf mag word en waar dit bedryf mag word nie.

Die munisipaliteit het hierdie week bevestig dat hulle reeds die gastehuis en kroeg in die sogenaamde “skuldbult” area van Makhado (Louis Trichardt) gesluit het. Volgens inligting is dit gesluit omdat daar nie aansoek gedoen is vir hersonering of spesiale toestemming nie en omdat besware ontvang is. ‘n Kroeg met drankverkope aan die publiek kan slegs op ‘n besigheidsperseel bedryf word.

Onder die munisipaliteit se Dorpsbeplanningskema 2000 kan aansoek gedoen word vir spesiale toestemming om ‘n gastehuis te bedryf met beperkte oornagakkommodasie. So ‘n aansoek moet vergesel wees van ‘n aansoekfooi van R250, ‘n beëdigde verklaring dat niemand beswaar gemaak het in die 28-dae tydperk nie, ‘n motiverende memorandum en die handtekeninge van die bure wat in ‘n radius van 50m om die erf woon. Intussen verskyn die advertensie twee maal in die koerant en een moet ook op die straatfront van die perseel aangebring word.

Die beperkte oornagakkommodasie behels die lewering van dienste aan ‘n maksimum van ses besoekers op ‘n tydelike basis, terwyl die woonhuis permanent bewoon moet word. Daar word elke twee jaar ‘n heraansoek ingedien vir spesiale toestemming en dit is onderworpe aan die voorwaarde dat geen besware ingedien word nie.

Die proses van hersonering van residensieel na die spesifieke doeleindes van gastehuis en restaurant behels ‘n fooi wat baie duisende rande kan beloop. Dit word bereken volgens ‘n gevorderde formule in terme van die dorpsordonnansie. Die vloeroppervlakte en die verhouding van die gebou tot die erf speel onder andere ‘n rol. Voorbeelde van gastehuise in die dorp wat hersoneer het, sluit in die Grasdak, Villa Grande en Lantern.

Na hersonering, sowel as verkryging van spesiale toestemming, word besigheidsheidstariewe en –belastings gehef. Restaurante met kroeë wat aan die breë publiek verkoop, word bedryf in die sentrale besigheidsdistrik.

Dit raak ook al hoe meer gewild om allerhande soorte besighede vanaf die huis te bedryf. Sekere besighede mag vanaf die huis in ‘n residensiële area bedryf word en daarvoor word spesiale toestemming volgens die prosedures gevra. Voorbeelde daarvan sluit in haarkappery, professionele beroepe soos ‘n argitek, diensnywerhede soos motorherstelwerk en tuisnywerhede wat bak en verskaffers is, maar nie self verkoop nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines