ADVERTISEMENT:

 

Die egpaar Petro en André van der Bergh ontspan tuis na ‘n wilde wildtuinervaring. Dit het egter nie hul geesdrif vir die natuurlewe en die wildtuin gedemp nie.

So amper was hy leeukos

 

News  Date: 03 February 2006

 

‘n Noodstaptog van bykans 25 kilometer deur gevaarlike leeugebied is deel van die angsbelaaide wedervaring van ‘n bekende plaaslike egpaar wat op ‘n stil naweek vir meer as 24 uur lank met hul voertuig hulpeloos vasgeval was in ‘n afgeleë, oorspoelde modderdrif in die Nasionale Kruger Wildtuin.

André en Petro van der Bergh bly steeds bewus van hul wonderbaarlike ontkoming wanneer hulle vertel van die skrikwekkende ervaring, toe André ongewapen deur ‘n digbevolkte leeu-gebied moes stap om hulp te probeer ontbied, terwyl Petro ‘n angsbevange nag en dag in ‘n oorstroomde voertuig in ‘n modderdrif moes deurbring.

Oor sy staptog sê André: “Aanvanklik is jy elke oomblik en elke tree intens bewus van jou totale onmag en weerloosheid. Watter kans het ‘n mens teen ‘n leeu, ‘n luiperd, ‘n buffel, olifante, ‘n hiëna of selfs ‘n simpele jakkals wat jou aanval? Elke oomblik vrees jy vir jou lewe.” Hy voeg by dat die vrees geleidelik plek maak vir ‘n desperate stryd teen fisiese uitputting en ‘n vasberade poging om bloot net nog vir die volgende kilometer aan die gang te bly om die doel van jou tog te bereik, naamlik om iewers op ‘n manier hulp te bekom.

“Mens raak later bloot net te moeg om ook nog bang te kan wees.”

Die hele krisis het gekom aan die einde van ‘n rustige besigtigingsrit Saterdagog¬gend, 21 Januarie, vanaf die Shingwedzi-ruskamp, af langs die Shingwedzirivier en terug.

“Ons het op die terugtog by Red Rocks ingedraai met die pad wat digby die uitkykpunt naby Bateleur terugdraai en oor verskeie lopies terugvoer na die teerpad. Omstreeks elfuur, by die derde driffie, was daar ‘n vlak plas stilstaande water. Ons motorkar het skielik net weggesak in ‘n dik laag sand en modder. Die water het by die deure ingeloop. Alles was sopnat. Ons het lank tevergeefs probeer om die modder onder die voertuig uit te skraap om vastigheid vir die wiele te bewerkstellig. Uiteindelik, na ‘n urelange gespook, het ons besef ons sal nie sonder hulp daar uitkom nie.”

Daar is geen selfoonontvangs in hierdie gedeelte van die wildtuin nie. André en Petro moes daarmee vrede maak dat hulle die nag in die wildernis in hul voertuig sou moes deurbring.

“Die steekvlieë was erg. Al die insekwerende room is afgewas toe ons kop onder die water moes induik om die sand en modder te probeer wegwerk,” vertel Petro van hul angsnag in hul nat kar. In die hoop dat iemand die rook sou sien, het hulle vroeër ‘n vuur aangepak.

“Ons het groot hoeveelhede groen takke en blare en olifantmis gebruik om soveel rook as moontlik te veroorsaak,” vertel André. Ook dit was tevergeefs en André het besef dat daar geen ander oplossing vir die probleem is as om te voet te gaan hulp soek.

Voordag, om kwart voor vyf Sondagoggend, het hy begin stap. Hy het gehoop om dalk selfoonontvangs te kry by die uitkykpos naby Bateleur en daarheen koers gekry. Die lang stap was egter tevergeefs. Daar was geen sein nie.

“Vyf kilometer verder was Bateleur, maar as daar niemand was nie, sou dit ‘n bykomende 10 vrugtelose kilometers wees wat ek moes stap.” André het by die T-aansluiting by Shingomane die deksel van hul koelhouer geplaas, waarop hulle met die houtskool uit hul vuur van die vorige nag “Help” en die rigting en afstand na hul voertuig geskryf het.

Intussen het Petro die spanning van die eensame wagtog in die modderige kar in die verlate wildernis probeer verdryf deur verskeie berekenings te waag oor die tyd waarop sy André kon terugverwag.

Daarna het sy die wildtuinbrosjure tot die fynste besonderheid bestudeer, “bloot om my bekommerde gedagtes besig te hou en weg te hou van al die vreesaanjaende moontlikhede van wat alles met André kan gebeur.” Dié tydverdryf het egter tot ‘n spoedige einde gekom toe sy omblaai en ‘n naby kleurfoto van ‘n brullende maanhaarleeu haar vanuit die brosjure aangluur.

Vir André was die spanning ook nie minder nie, toe hy op sy terugtog geen ander voertuigspore nie op die pad bemerk het nie. Daar was wel vars leeuspore oor hul eie voertuig se spore.

Uiteindelik het ‘n voertuig met ‘n KZN registrasienommer in die pad verskyn. Die besoekers het André opgelaai tot waar ‘n natuurbewaarder en helpers met ‘n voertuig ontbied kon word. Die besoekers sê die afdraai na Bateleur was glad nie op hul programskedule vir die dag nie.

“Ons het bloot op die ingewing van die oomblik besluit: kom ons draai hier af.”

As dit nie vir die besoekers se onbeplande afdraai was nie, sou die Van der Berghs waarskynlik nog etlike dae daar gestrand bly sit het. Die natuurbewaarder het hulle meegedeel dat die betrokke roete nie oor naweke gepatrolleer word nie, maar bloot gedurende die week.

Dit was egter nog nie die einde van die egpaar se buitengewone belewenis en beproewing tydens ‘n traumatiese naweekuitvlug nie.

“Ons was vas van voorneme om by die eerste geleentheid wat ons weer selfoonontvangs het, vir ons seun Morné gerus te stel dat ons veilig is. Voordat ons kon bel het hy gebel – om ons vanuit die hospitaal op Tzaneen gerus te stel dat hy buite gevaar is na ‘n ernstige motorfietsongeluk tydens ‘n pretrit tussen Tzaneen en Haenertsburg. Hy is geopereer vir ‘n veelvuldige beenbreuk,” vertel Petro. André voeg by: “Bykans op die dag, presies ‘n jaar gelede, het ek op dieselfde pad my motorfiets tydens ‘n soortgelyke rit afgeskryf.”

Die egpaar se liefde vir die natuur is nie deur hulle ongewone wedervarings gedemp nie.

“Ons sal weer gaan, maar nie sonder ‘n ordentlike 4x4 nie,” glimlag André.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines