ADVERTISEMENT:

 

‘n Inwoner het besluit om geen dief op sy perseel toe te laat nie. Hy het voorsorg getref en ‘n kennisgewing aangebring wat lui dat enige persoon wat ongenooid die perseel binnekom, geskiet sal word.

Lastige misdadigers stuit vir niks

 

News  Date: 03 February 2006

 

Lastige en astrante misdadigers is steeds aan die werk, met kontant en selfone bo-aan die lys.

Douthwaitstraat is een van die strate wat die afgelope twee weke deurgeloop het. Die dief skrik nie eers vir die polisie nie en stap doodluiters agter om die huis in die kombuis in, terwyl die buurt se honde vir die polisie blaf wat voor in die straat besig is.

Dit was die ondervinding van die Van der Merwes in dié betrokke straat. Die skelm het Sondagaand, 22 Januarie, oor die voorste muur gespring. Die bure het hom gesien en die polisie geskakel. Die polisie het vinnig gereageer en was voor in die straat, terwyl die hele buurt se honde vir hulle geblaf het. Dit is toe dat die krimineel ewe rustig agter om stap en ‘n selfoon en R2 500 aan kontant roof. Hy is toe “ordentlik” genoeg om die twee beursies met bankkaarte voor in die straat te los. Die polisie het hom nie vasgetrek nie.

Die volgende oggend vroeg het mense die twee beursies opgetel en aan die Van der Merwes terugbesorg.

Verder af in Douthwaitstraat, naby Jeppestraat, is nog ‘n inwoner beroof, nadat die diefwering oopgebreek is. ‘n Handsak, selfoon en kamera is vroeg Saterdagoggend, 28 Januarie, gesteel.

Wat ontstellend is, is dat dit gebeur het terwyl die inwoner geslaap het. Die slagoffer, mev. Charmaine Jacobs, slaap gewoonlik lig en haar selfoon het op haar bedkassie gelê.

“Ons vermoed die rower moes iets gespuit het,” sê mev. Jacobs se suster, mev. Estelle de Waal, wat langsaan woon.

Mev. De Waal het die oggend die handsak in die pad opgemerk en gesien dat dit haar suster s’n is. Die motor se sleutels was nog daarin.

“Ek het my yskoud geskrik toe ek die stukkende diefwering sien en my suster nie dadelik antwoord toe ek haar roep nie,” sê mev. De Waal. Haar suster was gelukkig ongedeerd.

“Die polisie en speurders het flink reageer en goeie vingerafdrukke gekry,” sê mev. De Waal.

‘n Paar dae later het die dief weer sy geluk in Douthwaitstraat probeer en weereens oor die muur by die Van der Merwes gespring.

“Hy het weggehardloop toe hy my seun sien. My man en seun het hom met die bakkie en te voet agterna gesit, maar hom by die laerskoolkoshuis verloor,” sê mev. Annemarie van der Merwe.

“Later het ons ‘n kinderfietsie oorkant ons huis in die lang gras opgetel. Ons soek nou die eienaar van die fietsie,” sê mev. Van der Merwe.

Die Van der Merwes sluit nou alle deure en laat die honde binne slaap. “Dit is vreeslik om so te leef. As die honde blaf, is almal buite met die flitse.”

Sover vasgestel kon word, is nog geen arrestasies gemaak nie.

Die jongste gevalle van inbrake volg op ‘n aanhoudende golf van inbrake tydens die feeseisoen en daarna. In sommige gevalle het inbrekers soveel as sewe keer by dieselfde perseel kom pla.

Te midde van die aanhoudende inbrake, het ‘n inwoner in President Steynstraat duidelik besluit om geen dief op sy perseel toe te laat nie. Hy het voorsorg getref en ‘n kennisgewing aangebring wat lui dat enige persoon wat die perseel ongenooid binnekom, geskiet sal word.

Die eienaar van die fietsie wat in Douthwaitstraat gevind is, is welkom om Annemarie te skakel by tel. (015) 516 6604. Daar kan ook 'n boodskap op die band gelaat word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines