

ADVERTISEMENT:

Wyle Cas Wolvaardt (66). Foto verskaf.
News Date: 05 November 2016
Inwoners het die afgelope week met hartseer verneem van die dood van bekende oud-Louis Trichardt sakeman, mnr. Cas Wolvaardt (66). Hy is na ‘n jarelange stryd met diabetes en onlangse nierversaking en verwante oorsake, op Vrydag, 28 Oktober, in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede.
“Dit was met groot hartseer, maar ook dankbaarheid, wat familie vir agt dae by sy hospitaalbed gewaak het, maar ten laaste moes afskeid neem van ‘n liefdevolle eggenoot, pa en oupa,” het die familie gesê.
Cas is op 30 November 1949 in Fairlands, Johannesburg, uit die huwelik van Stoffel en Elsie Wolvaardt gebore. Hy was een van ses seuns uit die huwelik, waarvan net een broer nie in die Louis Trichardt/Levubu-omgewing gewoon het nie.
Cas sal onthou word as ‘n bekende sakeman in Louis Trichardt, eers as vakleerling by L.A.C dienste, en later toe hy sy eie besigheid, Soutpansberg Auto, as auto elektrisiën begin het. Hy was ook bekend vir sy versameling oudhede, antieke ware en sy bywoning van etlike honderde veilings.
Cas en eggenoot Thea het saam sewe kinders grootgemaak op die plaas Vygeboomspruit naby die Ben Lavin Natuurreservaat buite Louis Trichardt. In 2002 verkoop hulle die plaas en Soutpansberg Auto, tans Annik Engeneering, om na Richie in die Noord-Kaap te verhuis. Gou verlang hulle egter terug en trek hulle terug om hulle op Levubu te vestig. Hier begin die egpaar L.P. Verspreiders, ‘n onderneming wat hulle tot sowat drie jaar gelede bedryf het.
Ná aftrede en vir gesondheidsredes, verhuis Cas en Thea nader aan Louis Trichardt om ook nader aan hul kinders en 13 kleinkinders te wees. Vier van die kleinkinders is tans in Engeland.
“As gesin wil ons net ons opregte waardering uitspreek teenoor familie en vriende vir hul getroue ondersteuning en bemoediging, in besonder vir ma Thea vir haar liefde en bystand. Baie dankie vir ouboet Gerhard, Elnerie, Greg en kinders wat vanaf Engeland kom ondersteun en groet het. Dank ook aan personeel van Zoutpansberg Privaathospitaal, dr. Fred Badenhorst, dr. Emil Gaigher, Martin's Begrafnisdienste en gemeentelede van AP Kerk. Die grootste lof aan ons Hemelse Vader wat vir ons ‘n wonderlike mens geleen het as voorbeeld, man, pa en oupa,” het die familie gesê.
Wyle Cas word oorleef deur eggenoot Thea Wolvaardt, kinders Christelle, Gerhard, Christoffel, Elnerie, Annemi, Casper en Wynand, skoondogters, skoonseuns en kleinkinders. ‘n Roudiens vir hom vind Donderdag, 3 November, om 11:00 vanuit die AP Kerk Louis Trichardt plaas.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
