

ADVERTISEMENT:

Van die tientalle oormerke (ear tags) wat langs die toeganspad van die nuwe vullisterrein afgeneem is.
News Date: 06 November 2016
Daar blyk geen onmiddellike uitkoms te wees vir Louis Trichardt se voortslepende afvalbestuurskrisis nie.
Twee jaar gelede het die Zoutpansberger berig aangaande die nuwe munisipale stortingsterrein wat veronderstel was om in Oktober 2014 in gebruik geneem te word het. Dié nuwe terrein is ongeveer 6 km buite die dorp, net verby die munisipale vliegveld, op ‘n gedeelte van die plaas Rietvly. In die berig is daar gefokus op die bestaande stortingsterrein op die Vondelingpad, wat reeds meer as 30 jaar verouderd is. Dié terrein beslaan maar 10ha en loop kort-kort oor.
Met die verskyning van die berig het die munisipaliteit bevestig dat hulle Ram 77 Pty Ltd aangestel het om die nuwe terrein te ontwikkel volgens die voorskrifte van die impakstudie en ‘n permit van die Departement Omgewingsake. Die munisipaliteit het ook belowe dat die terrein teen die einde van 2014 klaar sou wees, en deur die publiek in gebruik geneem kon word.
Vandag is dit egter duidelik dat daar van hierdie belofte dadels gekom het.
As ‘n sanitêre diens wat ‘n massiewe impak kan hê op inwoners se gesondheid, is dit een diens wat nie agterweë gelaat kan word nie. Tog het konstruksiewerk by die dorp se nuwe stortingsterrein so gesloer dat daar soms vir lang tydperke net mooi niks gebeur het nie.
Meer as twee jaar later is die nuwe terrein nog ver van klaar af. Intussen het inwoners begin om hulle vullis onwettig langs die ingangspad na die terrein te stort. Selfs dierlike oorskot word langs die pad gestort. (‘n Kort videogreep van die morsige toestand kan hier gesien word).
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het verlede week in ‘n e-pos gesê mense wat hul vullis bloot langs die toegangspad stort, is lafaards. Hy het gesê as dié mense betrap word, hulle die hoogste straf sal ontvang wat die wet toelaat.
Bobodi was onwillig om vrae te beantwoord rakende die vertraging in die voltooiing van die Rietvly-stortingsterrein. Hierdie terrein se voltooiingsdatum is sedert Oktober 2014 telkemale aangeskuif tot in 2015. Bobodi het in daardie stadium bevestig dat die begrote geld vir die nuwe terrein opgeraak het. ‘n Werknemer van Ram 77 Pty Ltd het bevestig dat hulle werk by Rietvly gestaak het, omdat die munisipaliteit nie die maatskappy betaal het nie en derhalwe kon geen salarisse aan werknemers uitbetaal word nie.
Die totale begroting vir die nuwe stortingsterrein was R5 miljoen. Die munisipaliteit het self dié bedrag bymekaar geskraap, nadat die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM), asook die Departement van Sosiale Ontwikkeling, nie na vore gekom het met die geld wat húlle belowe het vir die projek nie. Met hierdie geld het die munisipaliteit dit goed gedink om net eers 20ha van die totale 300ha van Rietvly te ontwikkel. Dit sluit in ‘n weegbrug, ‘n loog- en verdampingsdam, ‘n toegangspad en sekuriteitsfasiliteite. Die oorblywende 280ha sal ontwikkel word soos dit benodig word.
Bobodi het in sy e-pos geskryf dat die huidige Vondeling-stortingsterrein tans in die proses is om gesluit te word. “Die munisipaliteit se nuwe stortingsterrein [Rietvly] is nog nie in werking nie as gevolg van ander interne logistieke reëlings, en kan dus nie [nou] deur die diensverskaffer oorhandig word nie,” het Bobodi gesê.
Bobodi wou nie uitbrei oor wat die “interne logistieke reëlings” behels nie. Hy wou ook nie dat die koerant verdere opvolgvrae deurstuur aan die direkteur van afvalbestuur nie. “Dit is nie hoe ons protokol werk nie,” het Bobodi gesê.
Intussen is foto’s van beeste se oormerke (ear tags) wat gevind is tussen die ou beesvelle en -bene onder die aandag van die Makhado Polisie gebring. Daar was meer as 10 van dié oornommers te bespeur met die blote oog. Plaaslike boere en slaghuise het by navraag bespiegel dat die oorskot dalk afkomstig is van gesteelde beeste. Volgens die slaghuise sal ‘n abattoir of voerkraal nie die velle sommer net weggooi nie. Die velle is ‘n aardige som werd en word verkoop aan leerlooiers. Plaaslike stasiebelvoerder kol. Nyelisani Mabata het op haar beurt Dinsdag bevestig dat sy lede uitgestuur het om die toneel te besoek, en dat daar ‘n dossier geopen is vir verdere ondersoek.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
