

ADVERTISEMENT:

'n Werker besig om die lek op die Albasini-lyn te herstel, wat die afgelope naweek gesorg het vir droë waterkrane. Foto verskaf.
News Date: 06 November 2016
So warm as wat dit was die afgelope naweek, net so warm was inwoners se gemoedere.
Inwoners van Louis Trichardt moes vir die soveelste keer klaarkom sonder water, en dit nogal in ‘n tydperk wat die kwik tot nuwe rekordhoogtes gestyg het.
Waterkrane in die dorp het teen Saterdag opgedroog.
‘n Raadslid vir die Demokratiese Alliansie, mnr. Brian du Plooy, het Vrydagaand bevestig dat daar ‘n massiewe lek was op die pyplyn vanaf die Albasinidam. Buiten vir die ontydige ongerief wat dié nuutste watertekorte teweeg gebring het vir inwoners, het dit AfriForum die duiwel in gehad.
Die voorsitter van AfriForum se Louis Trichardt-tak, mnr. Wally Schultz, was teen Dinsdag op moedverloor se vlakte. Hy is oor die verloop van die naweek oorval met oproepe van ontstoke inwoners wat antwoorde gesoek het. Sommige van die klaers het sommer met kru taal vir Schultz uitgetrap. “Asof dit nou my skuld is dat daar nie water is nie,” het Schultz gesê. “Ek probeer my bes om water in die krane te kry en die munisipaliteit tot verantwoording te bring ... maar as dinge aangaan soos dit nou aangaan, voorspel ek dat ons hierdie Kersfees sonder water gaan wees,” het Schultz bygevoeg.
Schultz en sy span het vroeër die jaar een van die Vhembe Distriksmunisipaliteit se boorgate oorgeneem. Hierdié boorgat, het Schultz gesê, het veral die naweek bewys dat sy voorgestelde aksieplan kan werk. “Die een pomp was nie genoeg om in almal se waterbehoeftes te voorsien, maar mense kon darem water kom haal sodat hulle toilette kon spoel en so aan,” het Schultz gesê.
Kortliks het die plan voorgestel dat die VDM op ‘n dringende basis al die boorgate in die dorp herstel, sodat die Mouwkop Reservoir sodoende gevul kan word wanneer die Albasini-lyn gesluit moet word om lekke te herstel.
Instede daarvan om die boorgate te herstel, het die VDM toegelaat dat die boorgate totaal verwaarloos. Dit het AfriForum genoop om verdere regstappe in heroorweging te neem. Daar word gehoop dat AfriForum dalk binnekort of vroeg volgende jaar hulle regsgeding tot aksie sal bring.
Intussen is die pyplek herstel, en is daar vroeg Sondagoggend weer begin om water te pomp na die Mouwkop reservoir. Teen Woensdag was daar egter nog sekere woonbuurte van Louis Trichardt wat steeds sonder water moes klaarkom.
Volgens Du Plooy is dit omdat daar weereens 'n tekort is aan suiweringschemikalieë. Dié toedrag van sake het hy persoonlik onder die aandag gebring van VDM se burgermeester, wat op haar beurt belowe het om dringend aandag aan die probleem te gee.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
