ADVERTISEMENT:

 

Vierwielmotorfietse glad nie so veilig nie

 

News  Date: 03 February 2006

 

Die tragiese vierwielmotorfietsongeluk wat onlangs twee lewens in Polokwane geëis het, het die aandag gevestig op die gevaar wat hierdie gewilde soort motorfietse inhou.

Nader aan die huis rapporteer dokters dat hulle gereeld pasiënte behandel vir beserings wat opgedoen word met dié vierwielmotorfietse of quad bikes, soos hulle algemeen bekend staan.

“Einde verlede jaar het ek vir drie maande elke Saterdag pasiënte behandel ná vierwielmotorfietsongelukke. Selfs toeskouers by renbane het dit ontgeld,” het een dokter gerapporteer.

Dit lyk of oud en jonk die vierwielondervinding wil opdoen en dan ook ongelukke oorkom. In een bevestigde geval gedurende die afgelope vakansie is ‘n dame van in die 60 ernstig beseer toe sy in ‘n wildreservaat met haar eie vierwielmotorfiets rondgejaag het. Die fiets se remme het onklaar geraak en sy het nie ‘n valhelm en beskermende klere gedra nie. Volgens inligting ry dié besoeker van Gauteng en haar man, wat al in die 70 is, gereeld op hul vierwielers rond.

Dr. Lappies Labuschagné sê dat kop- en nekbeserings by vierwielerongelukke baie voorkom. Hy sê dat ‘n radioloogvriend van hom wat by ‘n ongevalle-afdeling in Pretoria werk, bevind het dat daar relatief meer ernstige ongelukke met vierwielmotorfietse voorkom as by tweewielmotorfietse.

Dokter Lappies, self ‘n ywerige motorfietsryer vir die afgelope 40 jaar, sê dat die vierwieler gevaarliker is, omdat die vierwieler bo-op die ryer val by ‘n ongeluk.

“Mense dink dat die vierwieler nie so maklik omval nie, maar die vier wiele is naby mekaar en die basis is klein. Die vierwieler val bo-op jou. Jongmense van die omgewing het al baie seergekry,” sê dr. Lappies.

Beskermende kleredrag is ook iets wat dr. Labuschagné beklemtoon.

“Nie net valhelms nie, maar ook ‘n rugstut en beskerming vir die bors,” sê hy.

Dr. Wim de Villiers het al bekkenfrakture, armfrakture, bobeenfrakture, hoofbeserings en konkussie behandel as gevolg van vierwielerongelukke.

“As hulle eenmaal geval het, sien jy hulle nie gou weer nie. Hoe gouer hulle val, hoe beter dalk,” skerts dr. De Villiers. Hy maan bestuurders van vierwielers om baie versigtig te wees en te weet wat hulle doen.

Die kwessie van opleiding is ook aangeraak deur mnr. JP van Wyk, bestuurder van die Last Post oord, 40km suid van Louis Trichardt. Die oord akkommodeer vierwielmotorfietsryers. Mnr. Van Wyk sê dat onervare ryers eers opleiding moet kry. By die oord is hulle in die proses om hulle instrukteurs vir formele opleiding te stuur.

“Mense dink as hulle op ‘n plaas ry, hoef hulle nie valhelms op te sit nie. Maar valhelms is ‘n moet,” sê mnr. Van Wyk. Daar het al mense seergekry wat nie hul valhelms opgesit het nie. Mnr. Van Wyk sê dat hulle nie die tweeslag-vierwielmotorfietse by die oord toelaat nie weens die lawaai, maar dat mense met vierwielers daar ry wat nie die wild verwilder nie.

Geraas steur nie net die wild nie, maar ook inwoners van die dorp.

“Dit is ‘n onding wat nou sy kop uitgesteek het. Die jongmense wat so in die strate en by die doprsdam rondjaag met hul vierwielers versteur die rus en kalmte en die natuur,” sê ‘n inwoner. ‘n Ander inwoner is amper van agter omgery deur twee vierwielers wat in Rivierstraat resies gejaag het.

Volgens ‘n artikel op die webwerf www.motoring.co.za kan geen vierwielmotorfiets as padwaardig geregistreer word nie. Die registrasie wat wel gedoen word se doel is om die polisie by te staan in die opspoor van gesteelde motorfietse. Verder sê die skrywer van die artikel, Dave Abrahams, dat die meeste vierwielers teen ‘n spoed van 60km kan ry, maar dat die direkte stuurmeganisme dit moeilik beheerbaar op teer maak.

Dat die gewildheid van die vierwielers geweldig toeneem, is duidelik te sien aan verkope en sekerlik ook aan die toename in ongelukke.

Klubs om vierwielers se aktiwiteite te reguleer, word ook al hoe meer gewild. Hierdie week vind ‘n beplande stigtingsvergadering vir vierwielmotorfietse plaas. Mnr. Willie du Preez het gesê dat hulle vir persone wat tans in die dorp rondjaag op hulle vierwielmotorfietse geriewe daar wil stel waar hulle op georganiseerde wyse kan kompeteer.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines