ADVERTISEMENT:

 

Swaar vonnisse vir vrugtediewe

 

News  Date: 20 August 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Persone wat van hul werkgewers steel, asook mense wat hul skuldig maak aan die diefstal van groente in vrugte kan baie swaarder vonnisse verwag indien hul uitgevang word.

Dit het duidelik na vore gekom tydens ondermeer twee onlangse hofsake.

In die een saak is drie mense, Albert Ratshivhombela, Livhuwani Munyai en Maria Munyai elk ‘n boete van R6 000 of twaalf maande gevangenisstraf opgelê vir die diefstal van avokado’s op in plaas op Levubu.

‘n Sekuriteitswag het een aand op die plaas gestap en afgekom op 24 sakke avokadopere. Hy het dadelik onraad gemerk en van sy kollegas gevra om die sakke te bewaak. Intussen het hy verder gestap en kort daarna op ‘n groep mense afgekom waar hulle besig was om avokadopere in sakke te pak. Toe hulle hom gewaar het hulle op die vlug geslaan, maar die wag kon daarin slaag om twee mense, Livhuwani en Maria, aan te keer. Maria het hom vertel dat hul die vrugte op aanvraag steel en dat hulle “werkgewer” hulle omstreeks middernag weer sal kom oplaai.

Die wag het Livhuwani se klere aangetrek en saam met Maria langs die pad gaan staan. Omstreeks 00:30 het die hoof beskuldigde in die saak, Ratshivhombela, in sy Colt-bakkie opgedaag. Die wag en Maria het toe die sakke avokadopere begin oplaai. Oomblikke later het die wag se kollegas uit die bos gestorm en Ratshivhombela het probeer wegjaag. Drie skote is op die voertuig gevuur, waarvan een die wiel getref het. Die bakkie het tot stilstand gekom en Ratshivhombele is gearresteer.

Ratshivhombela het aanvanklik aangevoer dat hy slegs die mense langs die pad gesien het en hulle ‘n reisgeleentheid aangebied het. Verdoemende getuienis van onder meer Maria dat hulle al etlike jare vir hom steel en dat hy hulle selfs ‘n salaris betaal het Ratshivhombela se doppie geklink. Sy bakkie wat tydens die misdaad gebruik is, is ook aan die Staat verbeurd verklaar.

In ‘n tweede saak is ‘n sewe maande swanger vrou, Sarina Mahosi (33), vir twee jaar tronk toe gestuur sonder die keuse van ‘n boete, nadat sy daaraan skuldig bevind is dat sy sowat elf en ‘n half duisend rand se suiker vanaf haar werkgewer gesteel het.

Die diefstalle het plaasgevind by ‘n besigheid op Levubu. Die besigheid koop suiker in tonnemaat aan en dit was Mahosi se plig om die suiker te weeg en in kleiner hoeveelhede te verpak. Mahosi het telkens die suiker onderweeg (byvoorbeeld 11kg instede van 12kg) en sodoende vir haar ‘n surplus opgebou wat sy weer verkoop het. Sy het selfs haar eie stel boeke gehou van transaksies. Sy is uitgevang deur die eienaar van die winkel wat op ‘n dag ‘n kliënt met onder meer ‘n vrag suiker sien wegry het van die winkel. Sy besigheid se faktuur het heelwat minder suiker aangedui as wat op die bakkie was. By navraag het die kliënt ‘n ander faktuur vorendag gebring wat deur Sarina uitgereik is met heelwat meer suikerhoeveelhede daarop.

Beide sake het in die plaaslike landdroshof voorgekom met landdros Marchel Roos as voorsittende beampte.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines