

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 February 2006
Roekelose bestuurders wat verkeersreël verontagsaam is besig om die belastingbetaler duisende rande uit die sak te jaag. Danksy hierdie bestuurders is twee verkeersligte Dinsdagoggend in Songozwistraat beskadig tydens twee afsonderlike ongelukke.
Die eerste ongeluk het omstreeks 09:20 op die hoek van Songozwi- en Presidentstraat plaasgevind. Volgens inligting het ‘n voertuig versuim om by die verkeerslig te stop en doodluiters in Songozwistraat ingedraai, reg voor ‘n aankomende minibus-taxi in. Die twee voertuie het gebots, waarna die minibus-taxi twee verkeersligte op die een hoek ontwortel het. Dit het later geblyk dat die bestuurder van die voertuig nie ‘n lisensie gehad het nie. Volgens die eienaar van die beskadigde minibus-taxi, mnr. M. G. Ngwenya, is die taxibestuurder en ‘n passasier in die ongeluk beseer. Die passasier is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Kort na dié ongeluk het ‘n vragmotor die kopstuk van ‘n verkeerslig op die hoek van Songozwi- en Krugerstraat gehaak. Die kopstuk is losgeruk en in ‘n teenoorgestelde rigting gedraai. Volgens ooggetuies het die vragmotor die kopstuk losgeruk, nadat dit te kort gedraai het. Munisipale werkers was blitsig op die toneel om herstelwerk te doen om te verhoed dat verdere ongelukke plaasvind. Die kopstuk wat vervang moes word, is tydelik met ‘n stuk draad regop gehou.
Volgens inligting beloop die skade aan die verkeersligte tussen R3 000 en R4 000. Die koste sal vanaf die betrokke oortreders verhaal word. In die vragmotorbestuurder se geval sal dit egter ietwat moeilik wees, aangesien niemand die vragmotor se registrasienommer afgevat het nie. ‘n Woordvoerder van die munisipale verkeersafdeling het by navraag gesê dat hulle ‘n groot probleem ondervind met bestuurders wat op hierdie maniere skade aan hul toerusting veroorsaak. Dit gebeur blykbaar op ‘n daaglikse basis. Op die oomblik ondervind die munisipale verkeersafdeling ook ‘n tekort aan mannekrag. Hierdie situasie word deur oortreders uitgebuit. Die munisipaliteit is egter in die proses om ekstra verkeersbeamptes op te lei.

ADVERTISEMENT:
