ADVERTISEMENT:

 

Wyle Paul Herman (71). Foto: Facebook.

Inwoners neem swaar afskeid van nog ‘n bekende sakeman

 

News  Date: 13 November 2016

 

Vir die soveelste keer hierdie jaar moes inwoners van Louis Trichardt verneem van die dood van nog een van die streek se groot oud-sakemanne, en hierdie keer mnr. Paul Herman (71).

Paul is omstreeks 04:00 Saterdagoggend in die hoësorgeenheid van die MediClinic in Tzaneen oorlede ná ‘n lang siekbed van ‘n jaar en sewe maande. Sy eggenote, Lea, het regdeur die aand tot sy dood by haar man se bed gewaak. “Hy het net al minder en minder asem begin haal, totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het – so rustig en stil,” het Lea gesê.

Paul se gesondheidsprobleme het begin nadat hy aanvanklik in die Kaap geval het. Kort daarna het hy begin kla van erge rugpyn en was hy deurlopend op behandeling daarvoor. Nog ‘n skok het vir hom en sy familie gewag toe daar vermoed is dat hy kanker het, maar gelukkig het ‘n biopsie die teendeel bewys. “Op die ou end het hy goed herstel, maar toe doen hy dubbele longontsteking op,” het Lea gesê.

Op 15 Augustus is Paul in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem vir behandeling van die longontsteking. Dit is opgevolg met ‘n besoek aan ‘n internis, wat aanbeveel het dat Paul dadelik opgeneem moet word. Hy is op 2 September in die hoësorgeenheid van die MediClinic ingeboek, waar hy in totaal 64 dae spandeer het.

Wat vir Lea die ergste van hierdie tydperk was, sê sy, is dat sy nie met haar man kon praat nie. “Net as hulle die pype [wat die vog van die longe moet dreineer] uithaal en ons wil met mekaar praat, dan moet die pype weer teruggaan. Maar ek het met hom gepraat en vir hom uit die Bybel gelees,” het Lea gesê.  Paul se gesondheid het bly agteruitgaan. “Hy was net in te veel pyn en net te moeg,” het Lea bygevoeg.

Paul is oorspronklik afkomstig vanaf Pretoria, waar hy 17 jaar in die lugmag was, en daarna in die boubedryf. Hy en Lea het in 1982 na Louis Trichardt verhuis en Loutrec (Louis Trichardt Auto Electricians) gekoop. Hulle was aktief betrokke by die onderneming tot in 2010, toe hulle hul perseel in Rissikstraat verkoop het. Die egpaar het daarna op die familie se plaas Franzhoek afgetree, waar Paul meestal met beeste en bokke geboer het. Meer onlangs het hulle hul toegespits op die aanplant van veevoer.

Paul en Lea was vir ‘n tydperk van 51 jaar getroud. “Dit is ‘n leeftyd. Dit is maar swaar en hy los ‘n groot leemte. Ek moet nou my hele lewe herorganiseer. Die laaste jaar en sewe maande het my hele lewe om hom gedraai,” het Lea gesê.

Wyle Paul word oorleef deur sy kinders Leanda (en eggenoot André Gouws), Paul (en eggenote Carina) en Manie (en eggenote Maggelien), en ses kleinkinders. ‘n Roudiens vir hom vind eerskomende Saterdag, 12 November, om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente plaas.

Die Herman-familie het hul dank uitgespreek teenoor al die dokters en mediese personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal en MediClinic in Tzaneen vir hul bystand en ondersteuning. “Baie dankie aan al die vriende en familie vir elke boodskap en die wat selfs kom kuier het. Maar die belangrikste, dankie aan ons Hemelse Vader wat hom so lank vir ons gespaar het,” het Lea gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines