ADVERTISEMENT:

 

Musina spog met eerste oes spirulina

 

News  Date: 10 February 2006

 

Die Limpopo Provinsie kan eersdaags spog met ‘n splinternuwe produk wat internasionale belangstelling gaande het.

Die eerste hoë-gehalte spirulina wat onder ideale omstandighede met behulp van ‘n unieke proses in ‘n tegnologies-gevorderde aanleg aan die buitewyke van Musina geproduseer word, is nou gereed vir bemarking.

Die multi-miljoen rand spirulina produksie-aanleg op Musina is sedert 16 Januarie in volle produksie en 100 kilogram hoë-gehalte spirulina word weekliks by die aanleg geoes. Die aanleg is die enigste van sy soort in Afrika en is die enigste in die wêreld wat gebruik maak van ‘n turbo-rotor drogingsproses, om sodoende ‘n produk te lewer wat aansienlik beter is as dié wat van ander prosesse gebruik maak.

Die koördineerder van die spirulina-projek op Musina, prof. Johan Grobbelaar, het in ‘n onderhoud bevestig dat produksie nou volstoom aan die gang is en dat voorbereidings vir die bemarking van die produk nou afgerond word. Die buitengewone nuwe produk sal as “Musina Spirulina” bemark word.

Volgens prof. Grobbelaar is Musina Spirulina ongetwyfeld die markleier in gehalte.

“Om verskeie redes kan geen ander spirulina produk op die mark met Musina Spirulina meeding nie. Musina Spirulina word onder ideale klimaatsomstandighede geproduseer, honderde kilometers verwyder van enige nywerhede wat die atmosfeer kan besoedel. Dit word gekweek op natuurlikgefilterde, onbesoedelde water uit die Limpopo, wat geen nywerhede of stede in sy opvangsgebied het nie. Die spirulina floreer op meer as 300 sonskyndae en somertemperatuur wat 45ºC bereik, met gematigde nagte en winters.

“Musina Spirulina bevat gevolglik 70% meer natuurlike beta-karoteen as enige ander spirulina op die mark. Natuurlike beta-karoteen is een van die kragtigste bekende anti-oksidante en immuunstelsel-versterkers. Dit is ‘n uiters waardevolle bron van provitamiene A, wat bewese verligting bring vir gesondheidsprobleme soos leukoplakia, longkanker, nagblindheid en ligsensitiwiteit. Musina Spirulina verskaf die voordele van beide spirulina en natuurlike beta-karoteen, wat elk op sy eie groot voordele het. Die kombinasie, soos dit voorkom in Musina Spirulina, het ‘n sinergistiese uitwerking wat alle ander spirulina produkte in die skadu stel. Die plaaslike spirulina word gedroog in ‘n gevorderde nuwe turbo-rotor droër wat die materiaal in ‘n fyn poeier maal, vir beter en vinniger absorpsie. Die kort blootstelling teen hoë temperatuur verseker dat die produk volkome gesteriliseer is en minder as 1% vog bevat.”

Die hele vervaardigingsproses voldoen aan die hoogste internasionale vereistes. Gehaltebeheer oortref die internasionale standaard vir gesondheidsvoedsel.

Spirulina word in die algemeen beskou as ‘n super voedingstof met ‘n hoë konsentrasie plantaardige proteïne, vitamiene en ‘n magdom ander weldadige dieëtaanvullings wat groot gesondheidsvoordele meebring as dit gereeld gebruik word.

Musina Spirulina sal in ‘n verskeidenheid formulerings beskikbaar wees, insluitende 100% suiwer spirulina in ‘n poeier- of tabletvorm.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines