ADVERTISEMENT:

 

Advertensie oor grondeise ontlok debat

 

News  Date: 10 February 2006

 

‘n Voorbladadvertensie in verband met grondeise in verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger het uit verskeie oorde reaksie ontlok. In die advertensie word ‘n lys plase genoem “ten opsigte waarvan grondeise aanvaar is.” Hulp in die hantering van die eise word aangebied.

In reaksie skryf mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Albasini Besorgde Groep Eienaars, dat die Muhodi-eis beslis nie toegestaan is nie, maar dat daar bloot ‘n aanvaardingsverslag deur die Grondeise Kommissie uitgebring is.

“Dit beteken, volgens die Kommissie blyk die eis geldig te wees volgens die inligting deur die eisers verstrek. Die geldigheid daarvan moet egter eers getoets word, want die grondeienaars se kant van die eis is nog nie aangehoor nie.”

Mnr. Ahrens sê die kommissie het ook versuim om sekere voorgeskrewe stappe te volg en dit dui op ‘n ongeldige hantering van die eis.

“Dit lyk asof die kommissie nou onnodige druk op grondeienaars probeer plaas om grond te verkoop terwyl die eis nog nie geldig bewys is nie. Die geldigheid van die eis kan net deur ‘n Grondeise Hof bepaal word. Dit is ‘n baie duur proses wat miljoene rande kan kos. Die TLU SA is in gesprek met die Hoofeise Kommissaris om ‘n verifiëringsforum daar te stel waarin die geldigheid van eise bepaal kan word sonder enige regskoste vir die grondeienaars,” sê mnr. Ahrens.

Sy raad aan boere is om rustig te wees en voort te boer.

“Die waarde van u grond kan net styg. Sou u ophou boer, verloor die plaas sy waarde.” Hy stel ook voor dat plaaseienaars by steunkringe en plaaswagte betrokke moet raak, omdat die geskiedenis leer dat geweldmisdaad in gebiede onder eis styg.

Mnr. Carel Hammann, wat verlede week die advertensie geplaas het, sê die talle navrae wat hy ontvang het, wys dat daar groot onkunde en onsekerheid by die publiek oor die proses van grondhervorming heers.

“Oor die geldigheid al dan nie van grondeise en of al die prosesse na die letter van die wet uitgevoer is in die publikasie van die grondeise in die Staatskoerant, wil ek my nie uitlaat nie. As die grondeis wel korrek gepubliseer is en die Grondeise Kommissaris kennis aan die grondeienaar gegee het, het die grondeienaar een van twee keuses: Hy kan besluit om die grond te verkoop in terme van die Wet op die Herstel van Grondregte, of hy kan die grondeis teenstaan en optree soos wat die wet voorskryf.

“Daar is heelwat mense wat om verskeie redes in elk geval hul grond wil verkoop. My advertensie was spesifiek op hierdie groep mense gerig. Grondpryse het die afgelope jaar drasties gestyg en is op die oomblik baie goed. My funksie sal wees om alle skakeling met die Grondeise Kommissaris te behartig en sodoende die proses vir die verkoper te vergemaklik. Ek sal verder kritieke insette in die proses lewer, soos byvoorbeeld om die waardeerder van volledige inligting te voorsien om sodoende ‘n ingeligte waardasie te kan uitbring.”

“Net soos wat op Levubu en Soekmekaar gebeur het, waar sommige grondeienaars besluit het om te verkoop en ander, soos dit hul goeie reg is, besluit het om die grondeis te bestry, sal dit ook hier gebeur.

“Grondeienaars moet die hele situasie deeglik ondersoek en oorweeg. Hulle moet egter ook kennis neem dat die minister, ingevolge Artikel 42(e) van die Wet op Herstel van Grondregte, by magte is om grond te onteien, selfs waar daar geen grondeis ingebring is nie. Die wet is by my kantore beskikbaar vir die wat belangstel.

“Grond se huidige waarde kan tans bepaal word, maar wat die toekoms vir grondwaardes inhou, is onvoorspelbaar. Die proses van grondhervorming reënvloed alle grondeienaars. My diens is aan almal beskikbaar,” sê mnr. Hammann.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines