ADVERTISEMENT:

 

Wildtuinbestuur dankbaar dat egpaar ongedeerd is

 

News  Date: 10 February 2006

 

Die bestuur van die Kruger Nasionale Park (KNP) het kennis geneem van die ontbering en noue ontkoming van ‘n plaaslike egpaar tydens ‘n naweekbesoek aan die wildtuin en sê hulle is dankbaar en verlig dat die egpaar ongedeerd daarvan afgekom het.

Mnr. Raymond Travers, ‘n woordvoerder van die KNP, het reageer op ‘n berig oor die benoude wedervaringe van die egpaar André en Petro van der Bergh, nadat hul voertuig in ‘n modderspruit vasgeval het en André deur gevaarlike leeuwêreld moes stap om hulp te probeer kry.

“Ons is dankbaar en verlig dat André en Petro die beproewing oorleef het,” sê Travers.

‘n Deurwinterde veldwagter in die wildtuin, mnr. Louis Olivier, sê dit gebeur dikwels dat motoriste gedurende die reënseisoen op plekke in die wildtuin vasval. Hy sê in die algemeen is dit goeie beleid om naby jou voertuig te bly as die voertuig onklaar raak of vasval. Ongelukkig kan dit ook gebeur dat die spruit waarin die voertuig vasgeval het, skielik kan afkom en dan die voertuig met sy insittendes kan meesleur, soos wat etlike jare gelede gebeur het op die pad na Sirheni oor Babalala.

“As die Van der Bergh-egpaar nie uitgekamp het nie, maar in een van die eenhede in Singwedzi tuisgegaan het, sou die hutopsigter by die ruskamp die volgende oggend bemerk het dat niemand in die beddens geslaap het nie en dit sonder versuim aangemeld het. ‘n Volskaalse soektog sou dan onmiddellik begin het, waarin daar eers by al die naburige kampe navraag gedoen sou word om vas te stel of die besoekers nie daar oornag het nie. Daarna sou die padsoektog volg. In die verlede is selfs van ‘n helikopter gebruik gemaak, wanneer die paaie so nat was dat ons dit nie met ‘n voertuig daarop kon waag nie. Die vraag bly natuurlik altyd: Waar begin jy soek ? Watter paaie moet jy met die soektog dek?”

Travers het bygevoeg: “Die Kruger Nasionale Park is ontsaglik groot. Dit beslaan ‘n area van twee miljoen hektaar en daar is 2 500 kilometer se toeriste paaie, wat dit geweldig moeilik maak om iemand te vind.

“Ons is egter baie dankbaar dat André en Petro die beproewing oorleef het en kan vertel van nog ‘n ongelooflike avontuur in die Kruger Nasionale Wildtuin.”

Oor moontlike ander voorsorgmaatreëls wat ‘n soektog kan vergemaklik in geval van nood, is gereelde wildtuinbesoekers dit eens dat dit goeie praktyk is om uitritte vooraf te beplan en altyd te sorg dat iemand betroubaar in die kamp kennis dra van die beoogde roete en die benaderde verwagte terugkomtyd.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines