

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 November 2016
Limpopo word allerweë beskou as dié belangrikste provinsie in Suid Afrika as dit oor dieregesondheid gaan. Dit grens aan drie buurlande, wat die potensiële verspreiding van veesiektes oorgrens na die land se veestapel wesentlik maak.
Op 12 Februarie vanjaar is die Limpopo Dieregesondheid Forum (LDGF) in Polokwane gestig. Die forum het ten doel om lewendehaweboerdery se volhoubaarheid te verseker deur spesifiek na kuddegesondheid en verbruikerbeskerming om te sien. Die LDGF skakel direk met die Nasionale Dieregesondheid Forum (NDF), onder leiding van Dr Pieter Vervoort, en wil alle rolspelers wat op enige wyse ‘n belang het by goeie dieregesondheid, op gereelde basis bymekaar te kry om oor bedreigings, behoeftes en beleid te gesels.
Op Agri Limpopo se kongres het Vervoort, voorsitter van die NDF, dit so gestel: “Veeartsenydienste in Limpopo behoort die beste in SA te wees, aangesien Limpopo die buffer is vir ‘n gesonde nasionale veestapel in SA”. Hierdie erns is sentraal in die LDGF se denke wanneer vergader word en bedreigings en geleenthede bespreek word. Die voorkoms van groot getalle vee in kommunale gebiede waar bestuur eiesoortige probleme bied en staatsveeartsenydienste in die laaste jare toenemend verswak, beklemtoon die belangrikheid van hierdie forum se werksaamhede.
Tydens LDGF se laaste vergadering vir die jaar op 9 November in Modimolle is ernstig gekyk na siektes wat die vee-en wildstapels in Limpopo bedreig. ‘n Groot aantal privaat- en staatsveeartse, asook verskeie vee- en wildboere, het die vergadering bygewoon.
Onder andere het die probleme met toetsing van buffels en swartwitpense baie aandag gekry en ontevredenheid is uitgespreek oor die huidige stelsel. Die rol en funksie van staatsveeartse, verantwoordelikhede van staats- en privaatveeartse in die proses, tydsverloop om toetsresultaat beskikbaar te kry, logistiese rompslomp en die onakkurate merk van bloedmonsters is bespreek. Daar is tydens die vergadering gevra dat ernstige oorweging geskenk moet word aan die oprigting van privaat toetslaboratoriums vir hierdie doel. Vir die onmiddellike is voorgestel dat kommunikasie met laboratoriums verbeter behoort te word.
Daar is ook gesê dat vee- en wildeienaars ‘n groter rol sal moet speel om te verseker dat die totale proses van toetsing van diere volgens die voorskrifte verloop. ‘n Groter rol vir privaatveeartse en eienaars van diere is aanbeveel. Veral wildboere lei meermale groot finansiële skade weens onakkurate werk van ander partye. Tydens die vergadering is genoem dat dit dus in hul eie belang sal wees om intenser by die verloop van die hele proses betrokke te raak, veral deur te verseker dat monsters duidelik en netjies gemerk word, nommers korrek aangeteken word en dat indiening van die monsters bespoedig word. Vervoort het veeartse en boere aangemoedig om skakeling met die toetslaboratoriums te verbeter en hulle te verwittig van beplande toetsing, sodat hulle daarvoor kan beplan en gereed kan wees. Sodoende, het Vervoort gesê, behoort bottelnekke by die laboratoriums voorkom te word en behoort uitslae vinniger ontvang te word.
Ander sake wat aandag geniet het was bek-en-klouseer, brucellose, korridorsiekte, Limpopo se grense met buurstate, die merk van diere en skakeling met die SAPD se vee- en wilddiefstaleenhede.
Die LDGF se volgende vergadering sal plaasvind op 9 Februarie in Polokwane. Alle veeartse en verteenwoordigers van lewendehawegroepe word genooi om die vergadering by te woon. Vir meer inligting kan daar met die LDGF se sekretaresse, Wilma Prinsloo, gekontak word by tel. 015 590 1024 of per e-pos by [email protected]
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
