ADVERTISEMENT:

 

Weerstoestande gunstig vir baie nat somerseisoen

 

News  Date: 20 November 2016

 

Te midde van die knellende droogte landswyd, wat ook in die Soutpansberg-streek reeds krisisafmetings begin afneem het, kon die reën van die afgelope week nie op ‘n beter tyd gekom het nie.

Sedert verlede Vrydag is neerslae van tussen 25mm en 45mm op Levubu, tussen 15mm en 40mm op Waterpoort en tussen 30mm en 45mm om Louis Trichardt gerapporteer. Vir die laaste drie weke het van die boere in die Bandelierkop-omgewing tot 40mm gemeet. In die Alldays-omgewing lyk dinge steeds slegs, met meeste plekke wat byna nog geen reën ontvang nie. Noord van die Soutpansberg is daar feitlik geen meer weiding oor vir wild- en beesboere nie en moes baie boere teen hoë koste ernstig hul diere begin voer.

Einde Oktober het mnr. Stephen Hoffman, bekende boer van Levubu en voormalige voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, gesê dat hulle hoopvol bly vir ‘n goeie reënvalseisoen. Hy het dié hoop uitgespreek ná aanleiding van die eerste belowende donderstorms wat oor die streek begin uitsak het. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se voorlopige gemiddelde reënvalsyfers vir Oktober, het Mara vir die maand 93% (33mm) van sy normale reënval van 36 mm ontvang, terwyl Waterpoort 71% (18mm) van sy normale 25 mm ontvang het. Ook in Oktober het Alldays maar droog gebly, met net 4mm wat vir die maand aangeteken is. Levubu, Morobeng (Soekmekaar), Thohoyandou en Venetia Myn het onderskeidelik 20mm, 25mm, 8mm en 16mm vir Oktober gemeet.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermyn voorspelling vir November 2016 tot Maart 2017, dui plaaslike en internasionale voorspellingsisteme daarop dat Suid-Afrika se somerreënvalareas ‘n baie nat tydperk kan verwag tydens die vroeë- en middel-somer periodes. Die verwagte warm toestande van die vorige [langtermyn] voorspelling, sê die Weerdiens, het ietwat gekwyn, wat verder bewys is van ‘n moontlike natter somer-reënvalseisoen. “Onsekerheid oor hierdie voorspellings bly egter ‘n bekommernis, aangesien faktore soos die ontwikkeling van ‘n La Niña (wat die kanse vir nat toestande verhoog) nog nie sterk gemanifesteer het nie. Dit veroorsaak gewoonlik twyfel oor die akkuraatheid van die voorspelling,” het die Weerdiens gesê.

Te midde van die positiewe verwagtinge rondom ‘n nat somer-reënvalseisoen het die Weerdiens egter gewaarsku dat die land steeds in die greep is van ‘n ernstige droogte. “Die voorspelling dui op die moontlikheid van ver bogemiddelde reënvaltoestande wat, gegewe die huidige droogtetoestande, ‘n negatiewe impak sal hê, sou vloede plaasvind. Dit is baie belangrik om toestande wat die huidige voorspelling kan versterk of verswak te monitor,” het die Weerdiens gesê. Hulle het gewaarsku dat groot vloede in Suid-Afrika histories gekoppel kan word aan weerpatrone wat deur La Niña veroorsaak word.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines