ADVERTISEMENT:

 

Hospitaal nie bron van tifoïde koors nie

 

News  Date: 17 February 2006

 

Mnr. Phuti Seloba, provinsiale woordvoerder van die Departement Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling, het Woensdag gereageer op gerugte dat die Louis Trichardt Gedenkhospitaal die oorsprong was van die onlangse uitbraak van tifoïde koors.

“Hoe kan dit van die hospitaal afkomstig wees? Die pasiënte is by klinieke gediagnoseer, voordat hulle hospitaal toe gestuur is. Dit maak geen sin nie” het Seloba gesê. Hy het gesê dat die gerug moontlik kon ontstaan het as gevolg van die feit dat twee van die hospitaal se personeellede ook die siekte opgedoen het. Oor die werklike moontlike oorsaak van die uitbraak het Seloba gesê dat hulle wag op ‘n verslag van die Departement van Waterwese wat tans besig is met ‘n ondersoek.

Seloba het ook gereageer op gerugte dat die pasiënt wat op 13 Januarie in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal oorlede is, dalk kon gesterf het as gevolg van tifoïde koors. Die 38-jarige man is dood langs sy bed op die vloer aangetref, nadat hy vroeër gekla het van erge maagpyn en gesukkel het met diarree. Kort na sy dood is daar ‘n ondersoek deur die provinsiale Departement van Gesondheid geloods om moontlike nalatigheid aan die kant van die nagdienspersoneel te ondersoek wat moontlik bygedra het tot die pasiënt se dood. Verlede week is die hoof van die plaaslike hospitaal genader vir kommentaar oor die oorsaak van die pasiënt se dood, maar hy wou nie reageer nie, behalwe om te noem dat hulle steeds besig is met ‘n ondersoek.

Met betrekking tot die voorafgaande het Seloba gesê dat mense versigtig moet wees om goedsmoeds afleidings te maak, sonder enige wetenskaplike feite.

“Mens moet wetenskaplike bewyse hê voordat jy wilde aantygings maak,” sê Seloba. “Ons glo daarin om toetse te doen, feite bymekaar te maak en eers dan uitspraak te lewer, nie soos ander wat eers uitspraak lewer en dan later feite bymekaar maak nie,” het hy bygevoeg. Wat betref die oorsaak van die pasiënt se dood, het Seloba gesê dat dit standaard prosedure is om ‘n ondersoek te loods in gevalle waar ‘n pasiënt sterf. Hy het gesê die bevindings van die ondersoek is nog nie beskikbaar nie.

Wat die ondersoek betref van beweerde nalatigheid aan die kant van die hospitaal se nagdienspersoneel in die dood van die pasiënt op 13 Januarie, het Seloba gesê dat die Departement hul ondersoek afgehandel het en dat hulle “regstellende maatreëls” ingestel het. Alhoewel hy nie veel wou uitbrei oor die aangeleentheid nie, was dit duidelik dat die Departement se ondersoek wel aspekte van nalatigheid aan die lig gebring het. Seloba het bygevoeg dat nog niemand in verband met die voorval geskors is nie, aangesien die betrokke beamptes nog voor ‘n dissiplinêre komitee moet verskyn om hul kant van die saak te stel. Eers daarna, sê Seloba, sal verdere stappe geneem word.

Op ‘n positiewe noot het Seloba gesê dat geen nuwe gevalle van tifoïde koors sedert verlede week in die streek aangemeld is nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines