ADVERTISEMENT:

 

Kunstenaar Aurean Buys by een van sy skilderye. Met die opbrengs uit die verkoop vansy skilderye het Aurean vir hom sy droomhuis teen die hang van die berg op Buysdorp gebou.

"Mens moet 'n droom hê," sê kunstenaar Aurean

 

News  Date: 17 February 2006

 

Aan interessante figure het die Soutpansberg geen tekort nie. ‘n Baie unieke persoon om te ontmoet, is Aurean Buys, wat met die verkoop van sy skilderye vir hom sy droomhuis teen die hang van die berg in Buysdorp bou.

Aurean (53) se lewensverhaal is een van visie, lewensdrif en deursettingsvermoë.

“Sien julle daardie huis daar onder? My Ouma Elsie en haar twee broers het my vanaf nege maande daar grootgemaak,” wys Aurean vanaf sy uitkykstoep wat bo-op die boonste deel van sy meervlakkige huis gebou is.

As klein kannetjie het Aurean agter sy ouma se huis gesit en opgekyk na ‘n seker rots bo in die berg. Hy het vir sy familie gesê dit is waar hy eendag sy huis gaan bou. Baie keer het hy ook op die rots gaan staan en droom, terwyl hy die mooi uitsig bewonder het. Aurean is na standerd drie terug na sy ouers in Johannesburg.

Later, toe hy in die apartheidsjare nie aanvaar is om dieselwerktuigkundige te word nie, het hy in ‘n kunstenaar ontwikkel. Hy kon altyd baie goed teken.

In 1982 het hy met 10 houtskoolskilderye in ‘n sak in Hillbrow aangekom, maar nie die moed gehad om dit uit te stal nie. ‘n Vriend het verbygekom en sonder enige omhaal die skilderye teen ‘n muur staangemaak. Aurean het op ‘n afstand bly staan. Toe hy egter sien dat mense daarom saamdrom, het hy nadergestaan en sy prys gemaak.

“In minder as twee uur is al 10 verkoop, teen sowat R12 elk. Dit was baie geld. Weet jy hoe inspireer dit jou? Ek is huis toe en het in alle erns begin skilder,” vertel Aurean. Later het hy ‘n tekenboek na die straathoek geneem en gesit en teken terwyl die kliënte wag.

“Soos wat ek een bladsy klaarmaak en uitskeur, so trap die ou dit vas en sê dis syne,” onthou Aurean. Sy Afrikafigure en diere was baie gewild.

Weens munisipale regulasies het Aurean sy straatkuns na drie maande gestaak. Hy het begin oefen om olieverfskilderye te maak. Hy het ook ander werke gedoen, soos horlosies maak, maar toe hy goed genoeg raak met die olieverf, het hy net daarin gespesialiseer.

Intussen het Aurean, wanneer hy Buysdorp toe gekom het, begin om ‘n pad te bou teen die skuinste uit. Stuk-stuk het hy gebou, terwyl hy “met die klip baklei” het. Die garage was eerste aan die beurt. Daarna het hy die klipkamer gebou, met ‘n deel van sy droomklip nog daarin sigbaar. Ander vertrekke het gevolg, almal met groot vensters om die pragtige uitsig te waardeer.

“Aan die begin het die mense my gespot. Hulle kon nie die prent van my huis sien wat ek in my kop sien nie. Later het die spottery stil geword,” sê hy.

Net soos die bouery, kom die afwerking binne ook stuk-stuk. Die laaste drie jaar woon Aurean in sy huis op Buysdorp. Hy het drie dogters wat in Johannesburg woon.

“Na 25 jaar wat ek vir myself gewerk het, het ek nou ‘n vaste werk in Louis Trichardt aanvaar. Dis nou terwyl ek nog in die omgewing moet naam maak as kunstenaar.”

So sê ‘n man wat letterlik sy huis met sy eie hande op ‘n rots gebou het: “Mens moet ‘n droom hê; jy moet geloof in jouself en in God hê en dan moet jy uithouvermoë hê en deurdruk met jou droom,” is sy raad

Saam met al sy talente het Aurean ook ‘n lewendige belangstelling in die geskiedenis van die Buysmense en is hy baie trots op sy geskiedenis. Hy het in die Kaap by biblioteke navorsing gedoen en besit interessante historiese stukke. Hy is ‘n direkte afstammeling van Coenraad de Bois wat in 1761 gebore is.

“Dit is vir my interessant dat die jaar 1825 waarin die stamvader, Coenraad, verdwyn het, ook die jaar is waarin Paul Kruger gebore is. Later gee President Paul Kruger 12 000 morg van ‘n plek wat hy nog nooit gesien het nie, aan die Buyse. Ek voel die Here het altyd hierdie pragtige plek gebêre vir die Buyse,” sê kunstenaar Aurean.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines