ADVERTISEMENT:

 

‘n Muntstuk, pikswart van die maagsure, is na 10 dae deur ‘n pediatriese chirurg verwyder uit die slukderm van klein Gideon du Plessis (11 maande). Na alles verby is, lag Gideon en ma Adéle vrolik, terwyl die geldstukkie vertoon word, hierdie keer uit dié vinnige mannetjie se gesigsveld.

Klein Gideon word toe 'n duur "spaarblik"

 

News  Date: 17 February 2006

 

‘n Muntstuk, pikswart van die maagsure, is na 10 dae deur ‘n pediatriese chirurg verwyder uit die slukderm van klein Gideon du Plessis.

Ma Adéle verduidelik dat die eenrandstuk nie heeltemal in die magie was nie, maar net onder in die slukderm gaan lê het en glad nie daarvandaan wou verskuif nie.

Gideon, ‘n vrolike, lewendige mannetjie van elf maande, het sy ouers lelik laat skrik toe hy die muntstuk soos ‘n blits gegryp het en in die mond laat verdwyn het.

Die drama het gebeur op Saterdag, 28 Januarie, net na Pa Johan vir Gideon gebad het sodat hulle by Ouma kon gaan kuier. Adéle en Gideon se ouer boetie, Dylan, het familie op die Lugmagbasis gaan besoek. Met die afdroogslag het Johan op die bed gaan sit en kleingeld het ongemerk uit sy sak op die handdoek geval. Kleinman was wakker en gereed. Pa het die handdoek uitgeskud dat jy net kleingeld sien trek. Binne ‘n sekonde het Gideon ‘n randstuk gegryp en reguit mond toe gestuur. Pa het hom opgetel en die geldjie is met die slukderm af, sonder dat Gideon verstik het.

“My man het dit vir my so kalm oor die foon gesê en gevra of ek kom, terwyl hy solank die dokter bel. Ek het dadelik van die basis af teruggejaag, terwyl ek gehuil het. Later het ek besef dat my man baie geskrik het,” vertel Adéle.

Drie stelle X-strale en 10 dae later bevind Gideon hom in die teater in die Kloof Hospitaal in Pretoria.

“Die ergste vir my was om te sien hoe die ou babalyfie so slap word van die narkose. Hy het eers baklei teen die narkose, toe al stadiger totdat die lyfie stil word en die ogies omdop,” vertel Adéle.

Tydens die gastroskopie is die geldstuk met ‘n apparaatjie uitgehaal.

“Die spesialis het gesê dat hierdie seker die duurste rand is,” sê Adéle, ná onkoste van ‘n hele paar duisend rand.

In die 10 dae wat die muntstuk in sy slukderm gebly het, het Gideon nooit gekla of ongemaklik gelyk nie. Die medici het vir sy ouers gesê om dop te hou of die muntstuk uitkom. As Gideon sou begin braak, sou hulle onmiddellik Pretoria toe moes jaag. Toe die X-strale toon dat die muntstuk na ‘n week nog glad nie beweeg het nie, het die dokter besluit dat dit verwyder moes word.

Hierdie week is klein Gideon weer so besig soos altyd. Sy kombuiskas-uitpakprojek word onderbreek vir ‘n foto. Baba en mamma glimlag vrolik vir die kamera, terwyl die geldstukkie vertoon word, hierdie keer uit dié vinnige mannetjie se gesigsveld.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines