

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 February 2006
Die polisie op Musina probeer nog om die identiteit vas te stel van ‘n man wie se ontbinde lyk verlede naweek in die Limpoporivier gevind is.
‘n Plaaswerker wat ‘n plaasgrens in die Weipe-omgewing gepatrolleer het, het die lyk Saterdag in die rivier bemerk. Dit het aan boomstompe vasgesit.
Die polisie is ontbied en het die lyk uit die rivier gehaal. Die oorledene is vermoedelik ‘n burger van Zimbabwe, wat probeer het om die rivier vanuit Zimbabwe na Suid-Afrika oor te steek. Hy was in sy dertigs en het sy klere in ‘n plastieksak om sy nek gebind, voordat hy die snelvloeiende rivier probeer oorsteek het.
Die SAPS se kommunikasiebeampte op Musina, inspekteur Jacques du Buisson, het by navraag gesê dit is die eerste lyk wat tot dusver vanjaar uit die Limpopo gehaal is.
Verlede week is ‘n swanger vrou deur plaaswerkers uit die rivier gered. Sy was van Zimbabwe en het in die moeilikheid geraak, terwyl sy probeer het om na Suid-Afrika te kom.
Duisende mense uit Zimbabwe kom elke maand onwettig oor die grens na Suid-Afrika. Nagenoeg 2 000 onwettige immigrante word weekliks teen hoë koste per trein vanuit Gauteng na die Beitbruggrenspos teruggebring vir repatriasie na Zimbabwe. Beamptes sê groot getalle van die onwettige immigrante is weer terug in Suid-Afrika, kort na hul repatriasie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
