ADVERTISEMENT:

 

Hospitaalpersoneel het geen empatie nie

 

News  Date: 24 February 2006

 

Die Smit-gesin van Musina moes verlede Donderdagaand (16de) tydens besoektyd met skok verneem dat ‘n geliefde familielid nie meer in sy bed is nie, omdat hy dood is.

Awie Smit (47) is net na 18:00 die aand in die Musina Hospitaal oorlede. Hy het aan TB gely. Omstreeks 20:00 dieselfde aand het familielede tydens besoektyd by die hospitaal opgedaag. Al wat hulle aangetref het was ‘n leë bed. By navraag is die familie onsimpatiek meegedeel “hy’s dood”.

“Ek het vir hulle daar gesê ek is bitter ontsteld. Hoekom het hulle ons nie laat weet nie? Die verpleegsters het doodeenvoudig net hul skouers opgetrek. Dit is nie hoe dit werk nie. Hulle moet mens met respek hanteer. Sê nou maar my ma is eers Vrydagmiddag hospitaal toe soos sy gewoonlik sou doen, dan was my broer al ‘n dag dood sonder dat hulle ons daarvan gesê het. Ek dink dit is uiters swak,” sê Awie se suster, Andeline.

Andeline sê die hospitaal kon maar net ‘n telefoonoproep na hulle maak, aangesien al hul besonderhede op haar broer se lêer was.

“Die verpleegpersoneel het geen, geen empatie met hul medemens nie. Ek is jammer om dit te sê, maar dit is nie meer soos in die verlede wat jy voel hulle gee om nie. Hulle gaan nie meer die ekstra myl nie,” sê Andeline.

Die voorval is onder die aandag gebring van die Departement Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling se provinsiale woordvoerder, mnr. Phuti Seloba in Polokwane. Mnr. Seloba het Woensdag gesê dat indien inligting oor die pasiënt se naasbestaandes beskikbaar was, die familie definitief in kennis gestel moes word. Hy het onderneem om die voorval met die hospitaal op te neem en terugvoer te gee aan die media.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines