

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 February 2006
Nuus dat die verbastering in die kurperpopulasie van die Albasinidam reeds voorgekom het tussen die Nylkurper en Suid-Afrikaanse bloukurper, het as ‘n groot skok gekom vir bioloë.
In April 2002 het daar in die Zoutpansberger ‘n artikel verskyn oor die voorkoms van Nylkurpers (Nile tilapia) in die Limpoporivier en die gevolge wat dit vir die land se bloukurpers (Mosambiektilapia) kan inhou. Vrese dat dié vissoort verder sou versprei na die provinsie se damme en riviere deur mense het op 5 Februarie bewaarheid geword. Verskeie kurpers is by die Albasinidam gevang wat lyk soos ‘n kruising tussen die bloukurper en die Nylkurper.
Volgens prof. Ben van der Waal van die Departement Biologiese Wetenskappe van die Universiteit van Venda, is die visse later in die laboratorium ondersoek en tipiese bastereienskappe is vasgestel. Meer as twee derdes van die vis wat by die Beja Hengeloord versamel is, was basters. Prof. Van der Waal sê dit dui daarop dat ‘n paar Nylkurpers reeds ‘n geruime tyd gelede in die dam beland het en suksesvol met die bloukurpers van die dam geteel en vermeng het.
Ter agtergrond van die probleem het prof. Van der Waal verduidelik dat, alhoewel kurpersoorte egte aparte soorte is, elkeen met sy eie verspreidingsgebied oor die hele Afrika en verskille mag hê in voorkoms en gedrag, hul tog so nou verwant aanmekaar is dat hulle onder mekaar kan uitbaster.
“Die suiwer soorte hou dan dus op om te bestaan en ‘n vrugbare baster ontstaan. Dit is dus belangrik dat die soorte uitmekaar gehou word en nie goedsmoeds versprei word nie," sê prof. Van der Waal.
Prof. Van der Waal sê dat die eerste Nylkurpers in 1996 in panne van die Limpopo in die Krugerwildtuin versamel is. Dit was afkomstig van visse wat in sytakke van die Limpopo naby Bulawayo in Zimbabwe losgelaat is.
“Die verdere verspreiding van die Nylkurper in die sytakke van die Limpopo gaan heel waarskynlik die verdwyning van die bloukurper as vissoort in die land se riviere beteken,” sê prof. Van der Waal. “Bloukurpers sal slegs suiwer en behoue kan bly in damme en riviersisteme wat totaal van die Nylkurper isoleer is. Die Levuvhurivier is die eerste rivier binne in Suid-Afrika waar die bloukurper gaan verdwyn en deur ‘n baster vervang sal word. Sodra die Albasinidam oorloop, sal die Nandonidam ook besmet raak en die hele rivier verder af. Dit sal ook in alle sytakke inbeweeg en slegs deur hoë damwalle, waar geen vis teen kan opswem nie, gestuit word. Die proses mag ‘n aantal jare duur maar dit is onomkeerbaar,” het prof. Van der Waal bygevoeg.
Maar wat beteken die hele “verbastering” vir die man op straat, en meer spesifiek vir die hengelaar?
“Dit beteken dat geen kurpers wat van nou af in die Albasinidam gevang word, as bloukurpers geregistreer kan word tydens provinsiale of nasionale hengelkompetisies nie. Die negatiewe effekte wat van die verbastering verwag kan word, sluit in die verswakking van die kwaliteit en groei van die kurpers in die dam en rivier. Die Nylkurper is ‘n meer aggressiewe vissoort as die bloukurper en die baster mag hierdie eienskap oorerf. Die Nylkurper voed op dieselfde voedsel as die bloukurper, maar eet ‘n wyer verskeidenheid. Dit kan die baster in staat stel om aggressief met bestaande bloukurpers en ook met rooiborskurpers en ander vissoorte mee te ding,” sê prof. Van der Waal.
Op nasionale skaal beteken die verbastering dat die land se inheemse bloukurper se voortbestaan nou inderdaad bedreig word. Dit benadeel ook onder die land se biodiversiteit. Verder wys dit dat die bewaringsowerhede nie alleen die probleem kan hok slaan nie, maar dat inwoners ook ‘n verantwoordelikheid het om die land se natuurlewe te beskerm.
Van die belangrikste kenmerke tussen die twee spesies sluit in dat die Nylkurper duidelike vertikale bande op die stertvin (3 tot 15) het, terwyl stippels op die stertvin, wat nooit vertikale bande is nie, by die bloukurper sigbaar is. Die algemene kleur van die Nylkurper is silwer tot donkergroenerig, terwyl die bloukurper silwer tot donkerbruinerig is. By die Nylkurper is die rugvin nooit met ‘n duidelik rooi rand nie, alhoewel dele rooierig mag voorkom, maar by die bloukurper is daar ‘n skerp afgebakende rooi rand. Verder is die iris van die Nylkurper se oog rooi, terwyl dit by die bloukurper slegs bruin of geel is. Daar is nog heelwat ander eienskappe wat die twee spesies skei.
Volgens prof. Van der Waal toon die bastervisse sommige van die eienskappe van die Nylkurper, maar meeste mense sal dit nie kan raaksien nie. Hy het hengelaars versoek om enige ongewone kurpers dadelik by hom aan te meld by tel. 084 7385 102. Hy het ook voorgestel dat visse wat vreemd voorkom, gefotografeer kan word of selfs heel gevries moet word vir latere ontleding.
“Onder geen omstandighede moet die bastervis van die Albasinidam of die Nylkurper lewend vervoer en in riviere of damme losgelaat word nie – dit is onwettig en versprei die probleemvis nog meer," het prof. Van der Waal gesê.

ADVERTISEMENT:
