ADVERTISEMENT:

 

Koperdraaddief deur gereg vasgevat

 

News  Date: 24 February 2006

 

‘n Eerste oortreder is verlede week tot een jaar direkte gevangenisstraf gevonnis op twee klagte van koperdraaddiefstal in die Vivo-omgewing.

Die probleem van koperdraaddiefstal is aan die toeneem en die swaar vonnis wat die misdadiger opgelê is, is bewys dat die howe dié misdaad in ‘n ernstige lig beskou.

Hardlife Mathimbe (28) is vroeg in Januarie vasgetrek op twee klagte van koperdraaddiefstal. Hy is op 14 Februarie skuldig bevind op beide klagte in die plaaslike landdroshof.

Die eerste diefstal het op die plaas Redhill plaasgevind toe Mathimbe ‘n elektriese motor beskadig het in ‘n poging om die elektriese koperbedrading uit die motor te steel. Plaas Rooikop was waar die tweede diefstal plaasgevind het. Hier het Mathimbe ondergrondse koperdraad wat na ‘n kragopwekker lei, uitgegrawe en gesteel. Mathimbe is gedurende die vroeë oggendure langs ‘n pad gearresteer waar hy met sy buit besig was om vir ‘n rygeleentheid te wag.

Die totale waarde van die gesteelde koperdraad beloop sowat R7000. Mathimbe is op beide klagte gevonnis tot ses maande direkte tronkstraf, sonder die keuse van ‘n boete.

Volgens mnr. Reino Mostert, beheeraanklaer by die plaaslike landdroshof, bestaan die vermoede dat Mathimbe deel is van ‘n koperdraaddiefstalsindikaat. Mathimbe is ‘n onwettige immigrant wat in Seshego werksaam was. Volgens Mostert word koperdraad in die Vivo-omgewing gesteel, waarna die diewe terugkeer na Polokwane om die draad te verkoop. Mostert het bygevoeg dat Mathimbe se vonnis nog swaarder sal wees, indien hy hom weer skuldig maak aan ‘n soortgelyke misdryf. Hy het ook sy hoop uitgespreek dat verdere arrestasies sal voortspruit uit die saak.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines