

ADVERTISEMENT:

Wyle mnr. Hennie Coetzee (75). Foto verskaf.
News Date: 11 December 2016
Die Soutpansberg is nog ‘n onderwyslegende armer, met die nuus van die dood van mnr. Hennie Coetzee.
Hennie is Dinsdagaand by sy huis in Louis Trichardt in die ouderdom van 75 jaar oorlede. “Dit was ‘n groot genade dat hy by die huis was,” het ‘n hartseer eggenote Gretha Woensdag gesê. Tog was sy dood te skielik vir haar. “Dit is verskriklik. Ek het dit glad nie verwag nie. Ons was nog besig om te praat daaroor om hom moontlik ouetehuis toe te stuur,” het Gretha gesê.
Hennie het aan demensie/Alzheimer se siekte gelei. “Aan die begin van die jaar kon hy nog saam met ons kerk toe gaan. Maartmaand nog is ons na ‘n familietroue in Bloemfontein en daarna na sy pa se plaas. Ek het gehoop dat die besoek iets sou ‘losmaak’, maar daar was niks,” het Gretha hartseer vertel. Sedert September het sy gesondheid dramaties agteruit gegaan. “Die laaste paar weke het ons hom tuis verpleeg. Dit was maar ‘n moeilike tyd,” het Gretha bygevoeg.
Hennie sal veral onthou word vir sy onderwysloopbaan wat oor etlike dekades gestrek het. Hy het in 1965 sy onderwysloopbaan begin as wetenskaponderwyser by Boys High in Potchefstroom. Die dorp is ook waar hy vir Gretha op universiteit ontmoet het.
“Hennie was verskriklik lief vir die Soutpansberg,” het Gretha gesê. Dit was juis hierdie liefde wat hulle in Julie 1974 na Louis Trichardt gebring het, nadat Hennie ‘n pos as wetenskaponderwyser by Hoërskool Louis Trichardt aanvaar het. Hierdie pos het hy tot en met 1980 beklee, waarna hy tot in 1983 onderwys gegee het by ‘n kollege in die voormalige Venda. Intussen het Gretha in 1978 tot en met 1981 onderwys gegee by Laerskool Soutpansberg. Sy sou in 1982 aansluit by Hoërskool Louis Trichardt se onderwyskorps as Afrikaans onderwyser en was in beheer van die mediasentrum.
In 1984 volg Hennie Gretha weer terug na Hoërskool Louis Trichardt as wetenskaponderwyser. Gretha sou in 1997 die onderwys los, maar Hennie het besluit om vas te byt. Sedert die vroeë 2001 het hy ook op aflosbasis by verskeie skole in die streek onderwys gegee, soos onder meer Eric Louw, die CVO skool Vivo en Zoutpansberg en ook by Ridgeway College. Dit was juis by Ridgeway College wat Hennie self begin agterkom het daar is iets fout met sy geheue. Dit was in 2010 en Hennie het besluit om heeltemal uit die onderwys te tree. Hy sou twee jaar later, in 2012, met demensie/Alzheimer se siekte gediagnoseer word. Sedertdien het hy stelselmatig vanuit die publieke lewe onttrek.
“Hy was ‘n besonders begaafde onderwyser en geliefd onder die kinders. Hy was ‘n individualis en het hom nie gestuur aan konvensies nie. Vir die natuur het hy ‘n groot liefde, en ook kennis daaroor, gehad. Bo dit alles was hy ‘n baie groot gelowige en ‘n ernstige kerkmens,” het Gretha gesê. As eggenoot van 49 jaar saam onthou Gretha net die goeie. “Gisteraand toe hy daar gelê het, het ek vir hom gesê hoe dankbaar ek is dat die Here hom oor my pad gebring het,” het Gretha met trane in haar oë gesê.
Wyle Hennie word oorleef deur Gretha, dogter Marietjie, seun FP, skoondogter Madeleine en kleindogters Helena en Retha. Teen druktyd was die begrafnisdiens voorlopig beplan vir Maandag, 12 Desember, om 10:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt. Die diens sal waargeneem word deur ds. Innes Nagel.
Gretha het haar dank uitgespreek teenoor al die verpleegsters wat haar die afgelope paar weke bygestaan het. Sy het ook ‘n spesiale woord van dank gehad teenoor dr. Anton Stroebel as huisdokter en dr. Fred Badenhorst as huisvriend teenwoordig met Hennie se afsterwe. “Baie dankie ook aan alle familie en vriende vir julle bystand met Hennie se siekte en ondersteuning ná sy afsterwe,” het Gretha gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
