

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 February 2006
‘n Eerlike polisieman, wat geweier het om omkoopgeld van ‘n smokkelaar by ‘n grenspos te ontvang, is verlede week op ‘n plegtigheid deur die provinsiale kommissaris van die polisie beloon.
Kommissaris Calvin Sengani het ‘n kontantbeloning van R10 000 aan inspekteur John Ledwaba oorhandig, tydens ‘n seremonie by Beitbrug. Kommissaris Sengani het by die geleentheid gesê die beloning moet as aansporing dien vir ander lede van die polisiediens om hulle nie by korrupte optrede te laat betrek nie.
Inspekteur Ledwaba is beloon vir sy onkreukbare integriteit tydens ‘n voorval verlede jaar by die Groblersbrug grenspos. Hy het op 13 Augustus verlede jaar ‘n vragmotor uit Zimbabwe by die grenspos deursoek. Tussen die vrag was 197 kartonne Mega sigarette met ‘n verkoopswaarde van R587 880. Die vragmotorbestuurder, Richard Ngwerume van Zimbabwe, kon geen dokumente vir die sigarette toon nie en het probeer om inspekteur Ledwaba met R10 000 om te koop. Inspekteur Ledwaba het hom onmiddellik met behulp van Inkomstediensbeamptes in hegtenis geneem.
Ngwerume is in die hof op Tomburke skuldig bevind op ‘n aanklag van smokkelary en gevonnis tot 18 maande tronkstraf of R6 000 boete. Hy het die boete betaal. ‘n Lasbrief is uitgereik vir sy arrestasie, nadat hy nie by die hof opgedaag het om tereg te staan op ‘n aanklag van omkopery nie.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
