

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 March 2006
Die kragtige aardbewing wat Mosambiek vroeg Donderdagoggend geruk het, se skokgolwe het ook hier menige inwoner in hul beddens laat regop sit.
“Hulle jive by die bed,” was maar een van die humoristiese uitlatings wat mev. Chrissie Pohl van Robot Elektries die oggend na die skudding by van personeel gehoor het. Een van hulle, mev. Flora Maduka van Vleifontein, wat die nag by haar skoondogter op ‘n matras geslaap het, het klaarblyklik vir haar skoondogter gevra: “Gaan dit maar altyd so by jou huis?”
Nog iemand vir wie dit gevoel het soos kindertjies wat op haar bed spring, is mev. Estie Saayman van Levubu. ‘n Rukkie voor die skudding wat om 00:19 in Espungabera, naby die grens tussen Mosambiek en Zimbabwe plaasgevind het, het mev. Saayman se 26 pare voëls, Makaws en African Greys, aan die raas gegaan. Sy het van die lawaai wakker geword en kort daarna het hul bed begin skud.
“Wie dink nou aan ‘n aardbewing in hierdie deel van die wêreld?” vra sy. Haar man het gedink aan die dag toe hulle ingetrek het en gesien het hoe die vorige eienaars twee doodskiste uit die huis gedra het …
Op ‘n geestelik vlak was daar ook die plaaslike predikant wat dadelik gemeen het die Liewe Vader het ‘n spesiale besoek aan hulle huis gebring. Dan was daar ook die jongman wat net die vorige dag gebid het dat die Here die dorp moet “ reg skud”. Kilometers verder het ‘n vrou dadelik die maruti gebel en gesê hy moet hard bid.
Weer terug in die dorp het die gerammel van die sinkdak vir ‘n inwoner geklink soos ‘n inbreker wat heen en weer op die dak loop. Dit het ‘n middernagtelik soektog afgegee na die kluis se sleutel en die rewolwer. Die inwoner het die huis se ligte aangeskakel met dié logika dat die inbreker, “wat toe seker plat op die dak gaan lê het,” duidelik moet sien hy is gewapen. Sy vrou het hom gevra of dit nie dalk ‘n aardbewing is nie, omdat die skilderye teen die muur al skewer begin hang het en die teëlvloer en mure gevibreer het. Ligdag is sy tog maar buiten toe om te gaan kyk of die inbreker nog op die dak lê. “Agterna het ek nogal gewonder hoe fris so ‘n inbreker moet wees wat die mure so kan laat tril,” het die man na ‘n slapelose nag opgemerk.
Mnr. Khanti Kalan van Eltivillas het ook wakker geword van ‘n skuddende bed. “Ek en my vrou Savita het mekaar geblameer vir die skud van die bed. Toe ons egter sien dat die swaar lamp vanaf die plafon soos ‘n pendulum swaai en hoor hoe die vensters tril, het ons besef dat hier iets anders aan die gang was. Mnr. Kalan sê dat dit hulle ‘n hele ruk gevat het om te besef dat dit ‘n aardskudding was.
Die episentrum van die aardskudding (by Espungabera) was 224km suidwes van Beira, die bekende Mosambiekse hawe. Die aardbewing het 7.5 op die Richterskaal gemeet en daar het verskeie naskokke gevolg. Die dodetal staan na berig word op vier. Die skudding het plaasgevind naby die suidelike einde van die Oos-Afrika Rifsisteem, wat ‘n seismologies aktiewe sone is. Volgens die USGS (United States Geological Survey) het daar vanaf 1900 net een aardbewing op hierdie rifsisteem voorgekom wat erger was, naamlik 7.6 op die Richterskaal. Dit sal interessant wees om uit te vind of iemand al in die Soutpansberg ‘n soortgelyke ervaring beleef het en wanneer dit was.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
