ADVERTISEMENT:

 

‘n Ontstelde Judy Goosen met die R350 kaartjie wat sy ontvang het.

Drama op trauma vir hartseer ma

 

News  Date: 03 March 2006

 

Ma Judy Goosen van Makhado (Louis Trichardt) moes Dinsdag weerloos terugstaan, terwyl sy deur ‘n provinsiale verkeersbeampte ten aanskoue van omstanders uitgeskel word.

Die uitskelsessie, gevolg deur ‘n R350 boete, kom te midde van haar hartseer oor haar seun, Gert Joubert (18), wat Sondagaand byna noodlottig beseer is nadat hy in ‘n tref-en-trap ongeluk van sy fiets afgery is net buite die dorp op die Vivo-pad.

Judy was juis besig om reëlings te tref, mense te bedank wat hulle bygestaan het en dokters te betaal, toe haar kar skielik gaan staan het op die rand van die padskouer. Dit het gebeur net nadat sy uit Erasmustraat in Andersonstraat opgedraai het.

Net agter haar was ‘n provinsiale verkeersvoertuig. Kort nadat haar kar gaan staan het, het die verkeersbeampte langs haar gaan stop en haar beveel om die voertuig te verwyder. Sy het vir hom gesê die kar het gaan staan, waarop hy voor hulle ingetrek het, uitgespring het en haar beveel het om haar sleutels aan hom te gee. ‘n Familielid en twee kinders was saam met haar in die voertuig.

“Ek het hom gevra om ons te help om die kar uit die pad te stoot. Hy het doodeenvoudig vir ons gesê ons is genoeg mense, ons moet dit self doen,” sê Judy.

Wat gevolg het was ‘n uitskelsessie van die verkeersbeampte ten aanskoue van personeellede van ‘n nabye besigheid. In ‘n stadium het hy Judy se bestuurderslisensie gegryp, na sy voertuig toe gestap en haar ‘n R350 kaartjie uitgeskryf omdat sy ‘n “obstruksie” in die pad veroorsaak het.

‘n Woedende Judy het sommer net daar oor die pad gestap na die kantore van die provinsiale verkeersafdeling in Erasmusstraat om haar misnoeë oor die beampte se optrede uit te spreek. Sy sê sy het met ‘n ene M S Baloyi gepraat. Haar hulpkreet is egter met verdere aggressie begroet.

“Ek het nog nooit so verneder gevoel nie. Hulle het my soos ‘n hond behandel,” sê Judy van haar besoek aan provinsiale kantore. Sy beweer dat die beamptes haar dinge toegesnou het soos “Jy moet net onthou, dit is die Nuwe Suid-Afrika – julle is niks werd nie”. Sy moes later onverrigte sake terugkeer na haar voertuig.

“Hulle het vir my gesê ek moet maar ‘n briefie skryf, dan moet die aanklaer maar besluit of hy die saak gaan terugtrek, want hulle sal dit nie doen nie,” sê Judy. “As ek ‘n fout gemaak het, het ek nie ‘n probleem om te betaal nie. Maar wat moes ek doen, my kar het gaan staan? Is dit nie eerder die verkeersbeampte se werk om my in so ‘n geval te help nie?” vra Judy. Sy kon later verder ry, nadat omstanders haar gehelp het om haar kar weer aan die gang te kry.

Kort na die gesprek met Judy is mnr. Baloyi, wat blykbaar tweede in bevel is by die plaaslike kantore van die provinsiale verkeersafdeling, genader vir kommentaar. Ten spyte van ‘n persoonlik besoek aan die betrokke kantore om 12:50, is die Zoutpansberger meegedeel dat mnr. Baloyi reeds op ete is. Dit was die antwoord, nadat sy kantoor meegedeel is dat die Zoutpansberger graag wil kommentaar kry op die voorval. Na die erns van die saak weer verduidelik is, is mnr. Baloyi se kantoor weer geskakel. “Soos ek gesê het, hy is op ete,” was die ontvangsdame se reaksie. Op ‘n vraag of mnr. Baloyi om 14:00 gaan terug wees van ete af, is die Zoutpansberger meegedeel dat hy dalk kan terug wees, maar dalk ook eers later. Die koerant se kontakbesonderhede is daar gelaat met ‘n versoek dat mnr. Baloyi so spoedig moontlik moes skakel om sy weergawe van die voorval te gee. Teen druktyd Woensdagmiddag was daar nog geen reaksie van mnr. Baloyi nie.

(Judy het inwoners versoek om met haar te skakel indien hulle kan help om uit te vind wie die ongeluk veroorsaak is waarin haar seun baie ernstig beseer is. Hy het erge hoofbeserings asook beenbreuke opgedoen. Die voertuig wat teen hom vasgejaag het, het weggejaag. Haar seun is Sondag omstreeks 19:00 langs die pad gevind en later oorgeplaas na ‘n hoësorg-eenheid by ‘n privaatkliniek in Polokwane. Judy kan geskakel word by tel. 083 258 3001).

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines