ADVERTISEMENT:

 

Dr. Jolanda Roux (links), kenner op die gebied van boomsiektes, besoek die Soutpansberg hierdie week. Hier identifiseer sy ‘n rakswam aan ‘n boom in die dorp. Saam met haar is mnr. Graham White van Molozi Trust. Dr. Roux besoek plantasies en vrugteboorde en lewer ‘n aanbieding vir die gemeenskap op 2 Maart .

Boomsiektes in die Soutpansberg onder vergrootglas

 

News  Date: 03 March 2006

 

Sommer met die intrapslag in die Soutpansberg het Dr. Jolanda Roux, boomsiekte kundige, haar kennersoog laat gly oor die plantasies teen die hange en bome in die dorp.

Dr. Roux, van FABI (Forest and Agriculture Biotechnology Institute) is deur Molozi Trust ontbied sodat haar kundigheid van boomsiektes die gemeenskap tot voordeel kan strek.

Terwyl sy Dinsdag, 28 Februarie, met die N1 na die Soutpansberg gereis het, het sy reeds waargeneem dat daar nie ramptoestande in die plantasies heers nie, aangesien daar nêrens kolle teen die berg gesien kan word nie.

“Ons weet watter boomsiektes in Suid-Afrika is en het ook gekyk na wat noord van Suid-Afrika gebeur. Ek verwag die gewone stresgeassosieerde siektes en blaarsiektes, maar ek kan dalk iets ongewoon vind as gevolg van die natuurfaktore hier, soos die hoë reënval saam met hoë temperature,” het Dr. Roux Dinsdag gesê.

‘n Besige reisplan is vir Dr. Roux beplan, wat besoeke aan plantasies en vrugteboorde en ‘n aanbieding vir die gemeenskap insluit. Sy is ‘n baie entoesiastiese navorser en vakkenner en het vir mnr. Fanie Wentzel, Bosboubestuurder van Molozi Trust, aangebied om selfs vroeër in die oggende weg te spring met die ondersoeke.

Afhangende van haar bevindings kan die uitslag van die streek se boomsiektes van ‘n dag tot ‘n maand duur om te finaliseer.

“Die gewone boomsiektes kan ek dadelik herken, maar as ek ‘n nuwe siekte ontdek en laboratoriumwerk daarop moet doen, dan kan die uitslag van ‘n week tot ‘n maand neem,” het Dr. Roux gesê. Boomsiektes is verantwoordelik vir net minder as die helfte van boomverliese, terwyl vuur vir die ander deel verantwoordelik is.

Dr. Roux het dadelik by haar eerste stop in die dorp ‘n monster van ‘n rakswam of Ganoderma spesie geneem by ‘n boom naby Forestrystraat en Messinaweg. Dr. Roux en mnr. Graham White van Molozi Trust het die swam bekyk wat op ‘n Afrika Vlamboom voorgekom het.

“Hierdie swam kom ook op bloekombome voor. Net so kry jy ook siektes in plantasies en dan kom ‘n ander tipe van dieselfde siekte byvoorbeeld in mangobome voor,” het Dr. Roux gesê.

Die rakswam wat Dr. Roux gevind het, veroorsaak die dood van die boom waaraan dit groei en kom gewoonlik by ‘n wond in wat meestal deur grassnyers veroorsaak word.

Dr. Roux is een keer tevore vlugtig na die area ontbied om die Armillaria-wortelsiekte te ondersoek. “Hierdie keer kyk ek baie wyer en sluit onder andere dennebome, bloekombome, avokados en macadamias in. Ek hoop ook om die Instituut (FABI) se werksaamhede bekend te stel,” sê Dr. Roux.

Die gemeenskapsaanbieding vind op 2 Maart om 10:00 by Sunset by die Albasinidam plaas. Vir meer inligting, skakel Alistair by tel. (015) 516 4711, Fanie Wentzel by 083 853 8835 of Drummond by 084 581 0479.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines