

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 March 2006
Die skielike dood van mnr. Johan Louw, eienaar van Rebels Take Away-restaurant, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Johan (58) is Saterdag (4de) in die vroeë oggendure dood. Hy het ‘n massiewe hartaanval gehad.
Volgens sy vrou, Louise, was hy nie siek nie en het nog tot Vrydagaand gewerk. Om middernag het hy ‘n bietjie gekla van sooibrand, maar vir sy vrou gesê om nie bekommerd te wees nie en die lig af te skakel. Die volgende oomblik het sy aan sy asemhaling gehoor dat iets drasties fout is en sy het om die bed na die telefoon langs hom gehardloop. Voor dat sy begin skakel het, was dit reeds te laat.
“Al sou die dokter reg langs hom gebly het, sou hy nie betyds kon gekom het nie,” het sy dogter, Marietie, hierdie week gesê.
Johan en Louise sou die dag van sy dood hul 34ste huweliksherdenking gevier het.
“Hy wou ook Saterdag so graag die R30miljoen Lotto wen,” het sy vrou gesê.
Oom Johan, soos hy onder die inwoners bekend was, het dit baie geniet om in “sy winkel”, Rebels, te werk. Mense sal hom vir baie mooi dinge onthou, ook sy liefde vir kinders. Hulle het altyd lekkertjies by oom Johan gekry.
Marietie sê haar pa was ‘n wonderlike optimistiese en vrygewige man. Hy het honger Zimbabwiërs verniet kos gegee en seker gemaak dat hulle dit op die winkel se voorstoep opeet. Hy het ook mense met geldelike probleme gehelp.
“Niks kon hom onderkry nie en hy het altyd gelag,” sê sy dogter.
Hy het ook elke week die Zoutpansberger van hoek tot kant gelees en was altyd op hoogte van sake. Sy lewendige belangstelling in die nuus was een van die dryfvere vir Marietie, wat Beeld se joernalis in die provinsie is.
Johan was ‘n oudleerling van Hoërskool Louis Trichardt. Hy was die seun van Koos en Nettie Louw, wat in hul leeftyd bekende boere in Levubu was. Na skool het Johan diens gedoen in die polisie op die dorp. Daarna was hy in die bankwese en bankbestuurder op verskeie dorpe in die Vrystaat en Limpopo. Hy was die afgelope sewe jaar die eienaar van Rebels. Hy het die besigheid opgebou van ‘n sukkelende tot 'n baie winsgewende besigheid.
Wyle Johan Louw is Woensdag om 11:00 vanuit die N G. Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Willem Boshoff. Hy laat sy vrou, Louise, dogter, Marietie, asook twee susters, Petro en Rina, en een broer, Kobie, agter.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
