

ADVERTISEMENT:

Rudolph Botha in sy hospitaalbed in die Milpark Hospitaal afgeneem.
News Date: 22 January 2017
Ds. Rudolph Botha, wat voorheen ‘n leraar op Louis Trichardt was, sterk aan in Johannesburg in die hospitaal na ‘n baie ernstige motorongeluk.
Rudolph was tot en met einde 2015 verbonde aan die NG Kerk Soutpansberg-gemeente. Hy is tans ‘n leraar by die NG Kerk se gemeente in Carletonville-Suid.
Rudolph het Sondag vanuit sy hospitaalbed in die Milpark Hospitaal in Johannesburg vertel van sy ongeluk op 3 Januarie vanjaar. Hy was op pad na die begraafplaas in Carltonville om ‘n kort begrafnisdiens waar te neem. Die roete na die begraafplaas strek deur ‘n laning bome en dit is hier waar ‘n bees ewe skielik voor die bakkie ingeloop het. Rudolph het uitgeswaai en beheer oor die bakkie verloor. Die bakkie het tot stilstand gekom teen ‘n boom.
Rudolph vertel dat hy nie dadelik besef het hoe ernstig hy beseer is nie. Toe hy bykom, het hy probeer uitklim, maar sy regterbeen het nie gereageer nie en hy het uit die bakkie geval. ‘n Paar minute later het daar gelukkig ‘n ander voertuig verbygekom en ‘n ambulans is ontbied.
Die impak van die botsing het sy regterbeen se femur deur sy bekken gedruk. Die bekken moes in die teater herbou word, met verskeie plate en skroewe om alles in plek te hou. Rudolph sal na skatting vir sowat ses maande nie op die been kan trap nie. Gelukkig was die beserings aan sy kop en bors minder ernstig as wat aanvanklik gevrees is. Die sitplekgordel het nog ernstiger beserings verminder, maar laserasies aan sy ingewande veroorsaak. Dit is konserwatief behandel en het goed genees.
Rudolph is Maandag uit die Milpark Hospitaal ontslaan en verskuif na ‘n sentrum wat spesialiseer in die rehabilitasie van sulke beserings. Na verwagting sal hy later die week kan terugkeer huis toe.
Hy en sy vrou, Edith, het almal bedank vir die boodskappe van bemoediging en hulle belangstelling.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
