ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Fritz Fourie (64). Foto verskaf.

Hartseer totsiens

 

News  Date: 23 January 2017

 

Die Soutpansberg-gemeenskap is hierdie week weer in rou gedompel met die nuus van die skielike dood van die welbekende en beminde mnr. Fritz Fourie (64).

Fritz is verlede Woensdag (11de) ernstig beseer in ‘n motorongeluk voor sy besigheid, Vanwyk Ingenieurswerke, in Industriastraat. Seun Renier en dogter Hilda het Dinsdag met hartseer die noodlottige dag se gebeure herleef.

Niemand het regtig gesien wat gebeur het nie. Fritz het omstreek 09:40 in sy bakkie voor sy besigheid gestop. Hy het sy veiligheidsgordel losgemaak om uit te klim, maar het vermoedelik besluit om eerder oorkant die pad onder ‘n skaduboom te gaan parkeer. “My pa het nooit sonder ‘n veiligheidsgordel gery nie. Hy was feitlik heeltemal oor die pad toe ‘n aankomende bus hom op die passasierskant van die bakkie getref het,” het Renier vertel.

Die impak van die botsing het Fritz se bakkie teruggetol oor die pad, in ‘n lamppaal vas. Die bus het intussen die boom getref waaronder Fritz wou parkeer.

Fritz se eggenoot Jacoline, wat saam met hom Vanwyk Ingenieurswerke bedryf, was in die kantoor en het ná die slag uitgehardloop. Sy het dadelik vir Renier geskakel, wat binne vyf minute op die toneel was. “My pa het gekla van erge borspyne en het ‘n lelike hou teen die kop weg gehad,” het Renier gesê. Hy het dadelik hul huisdokter geskakel, maar dié was in die teater besig met ‘n pasiënt. “Ek het vir hom gesê hy moet gou kom, want my pa is besig om te sterf. Gelukkig kon dr. Anton Stroebel vir hom instaan en hy het dadelik na die toneel gejaag,” het Renier gesê. Intussen het ander nooddienspersoneel op die toneel opgedaag om te help.

Binne 20 minute ná die ongeluk is Fritz afgevoer na die Zoutpansberg Privaathospitaal. Hier het medici hom met medikasie in ‘n koma geplaas weens die ernstige aard van sy beserings. Daar is vir ure gesukkel om sy toestand te stabiliseer en eers om 15:45 was sy toestand van so ‘n aard dat hulle Fritz per ambulans kon oorplaas na die hoësorgeenheid van die MediKliniek in Tzaneen. “Daar aangekom het sy toestand aanvanklik verbeter. Ons as familie het ‘n sug van verligting geslaak met die moontlikheid van herstel,” het Renier gesê.

Later die aand sou Fritz se toestand egter weer verswak, veral tydens sy breinskandering. “Elke keer as hulle hom beweeg het, het sy toestand dramaties verswak,” het Renier gesê.

Die familie is Donderdagoggend meegedeel dat Fritz se beserings veel erger was as wat aanvanklik vermoed is. Buiten vir ernstige kopbeserings, was al sy ribbes aan die voor- en agterkant gebreek, sy longe het platgeval en sy hart het ook fisiese skade opgedoen.

Deurlopend het die familie en vriende egter gehoop en gebid op beterskap. Vrydag was sy toestand steeds uiters kritiek, maar stabiel. Saterdag het Fritz, wat steeds in ‘n koma gehou is, weer ‘n breinskandering ontvang om die omvang van die bloeding op die brein te bepaal. “Van Saterdagaand af het sy toestand regtig sleg agteruitgegaan. Die groot probleem was sy hart,” voeg dogter Hilda by. Voor die ongeluk was Fritz se gesondheid ook nie 100% nie. Hy was ‘n diabeet en het gesukkel met sy nierfunksie. In 2010 moes sy linkerbeen geamputeer word weens sy diabetes. Hy het beplan om sy regterbeen in Maart vanjaar te amputeer.

Elke dag het die familie seker gemaak dat iemand deurry om by Fritz te wees. Sondagoggend het Hilda en Wouter, Fritz se jongste seun, by hom gaan besoek aflê. Steeds was Fritz se toestand kritiek maar stabiel. “Sondag omstreeks 16:00 het een van die verpleers geskakel om te hoor of ons weer deurkom. Hulle was egter nie bekommerd oor hom nie en het gesê dit is reg as ons die volgende oggend deurkom,” het Hilda gesê.

Skaars ‘n uur later, om 17:00, het die familie egter weer ‘n oproep ontvang – die keer van die dokter self af. “Hy het vir ons gesê ons moet dadelik kom,” vertel Hilda. Vyf-en-veertig minute later het die familie by die hospitaal gestop en skoknuus ontvang. Die dokter het vir hulle gesê daar is menslik gesproke niks meer wat hulle vir Fritz kon doen nie.  “Die dokter was eerlik met ons dat my pa daardie aand sal sterf. Dit was nog net die masjiene wat hom aan die lewe gehou het. Sy hart het stelselmatig net begin ingee … die impak van die botsing was net te groot,” het Hilda gesê.

Om 21:00 is Fritz oorlede, nadat die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, afgeskakel is. “Dit was ‘n skok en groot hartseer vir ons as familie, maar ons kon groet,” het Renier gesê.

Fritz, wat in 1989 met sy familie na Louis Trichardt verhuis het, was in lewe op soveel vlakke van die gemeenskap betrokke. Reeds vanaf sy kinders se skooljare was hy aktief betrokke by onder meer die atletiekklub en Voortrekkers. Baie sal sy glimlaggende gesig ook onthou met sy betrokkenheid by die potjiekosete tydens die jaarlikse Kremetart Fietswedren. Hy en Jacoline was ook aktiewe lede van die plaaslike karavaanklub.

Meeste sal Fritz egter onthou vir sy jarelange verbondenheid aan die Departement van Bosbou en Waterwese, waar hy vir etlike jare hoofvoorligter was. In 2000 het Fritz 'n pakket gevat by die departement. Hierna was hy aktief betrokke by die Werk vir Water-projek. Hy was ook vir bykans vyf jaar werksaam by Rubicon Konstruksie en in 2007 koop hy en Jacoline Vanwyk Ingenieurswerke, wat hy tot en met sy dood bedryf het.

Op geestelike vlak was Fritz ‘n groot kerkmens. “Hy was ‘n man wat baie lief was om te gee – ‘n man van groot wysheid,” het Hilda gesê. Ten tye van sy dood was Fritz ‘n aktiewe komiteelid van BergCare.

“Sy grootste eienskap was dat hy altyd ‘n plan gehad het. As hy nie ‘n plan gehad het nie, sou hy môre ‘n plan gehad het, want hy sou die hele nag daaraan lê en dink het,” onthou Jacoline met ‘n glimlag haar man.

“My pa het plek en tyd gemaak om met mense te praat en hulle te help. As dominee vir hom sou sê dat iemand werk soek, was dit my pa wat vir daardie persoon werk gegee het,” het Renier gesê.

‘n Roudiens vir wyle Fritz vind eerskomende Saterdag (21ste) om 10:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Die diens sal waargeneem word deur ds. Jan Pretorius. Fritz word oorleef deur se eggenote Jacoline, dogter Hilda (met skoonseun Sybrand), seun Renier (met skoondogter Anri en kleindogter Reanke) en seun Wouter.

Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal vir hul gebede en woorde van vertroosting. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gerig aan drs. Anton Stroebel, Gert van der Merwe, die personeel van beide hospitale, asook die nooddienspersoneel wat op die ongelukstoneel gehelp het. “Die amazing deel van die vyf dae wat my pa in die hospitaal was, was die ongelooflike hoeveelheid mense wat vir hom gebid het,” het Hilda gesê.   

 

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines