

ADVERTISEMENT:

Tannie Marie en oom Fred Hatting.
News Date: 28 January 2017
Dit is nie aldag wat ‘n mens se naam verewig word nie. Hierdie besonderse eer het oom Fred en tannie Marie Hatting van Louis Trichardt te beurt geval hierdie jaar.
Verlede week het tannie Marie opgewonde – met nét so ‘n dik boek onder die arm - by die Zoutpansberger se kantore opgedaag. “Kyk hier,” wys sy toe in dié boek, “hierdie mot is na my en die oom vernoem.”
Die Desmeocraera hattinghorum is ‘n nuwe spesie mot wat na die welbeminde egpaar van die streek vernoem is, nadat dit in 2013 op hulle plaas Old Gables ontdek is. Twee buitelandse entomoloë het die ontdekking gemaak.
Destyds het tannie Marie en oom Fred nog op hulle plaas langs die Bluegumspoort-pad gebly.
Die twee entomoloë, prof. Alexander Schintlmeister en Thomas Witt, het die area besoek as deel van hul poging om hul boek The Notodontidae of South Africa (including Swaziland & Lesotho) te voltooi. Hierdie boek is eintlik ‘n naslaangids waarin die verskillende spesies motte (en waar hulle voorkom) volledig aangeteken en geskets is. Op bladsy 51 wys tannie Marie die Desmeocraera hattinghorum uit met sy twee bont gespikkelde vlerkies.
In sy boek het prof. Schintlmeister die volgende aantekening gemaak oor waarom hy besluit het om die mot na die egpaar te noem: “Hulle [die Hattings] het ons op soveel wyses gehelp met ons navorsing in die Soutpansberg, onder andere deur vir ons ‘n voertuig te leen om oor die rowwe terrein te ry. Hulle het ons ook toegelaat om motte te vang in hulle tuin en veld op hul plaas.”
“Die twee kon nie glo dat iemand net sommer so vir vreemde mense ‘n kar sal leen sonder om te skroom nie,” onthou tannie Marie. Sy en die oom het ook dat die twee professore by hulle tuisgaan vir die duur van hulle verblyf in die streek.
Dit was vir hulle ‘n besonderse verassing toe ‘n vriend van Schintlmeister spesiaal verlede week hier aangekom het om die boek uit Rusland saam te bring vir hulle. “Nou het ons die Soutpansberg ook op die map gesit,” het tannie Marie gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
