ADVERTISEMENT:

 

Onlosmaakbaar van mekaar ... tweelingbroers Christo (links) en Beyers Adendorff (regs). Die omstandighede wat gelei het tot Beyers se dood bly steeds ‘n raaisel. Foto verskaf.

Net die dood kon twee broers van mekaar skei

 

Net die dood kon die Adendorff-tweeling van mekaar skei…Vir die familie is daar baie vrae rondom die dood van die 43-jarige Beyers Adendorff, meer so vir tweelingbroer Christo. “Die twee was onlosmaakbaar van mekaar. Hulle het saam gebly, saam gewerk en het selfs ‘n kar gedeel … hulle was sielsgenote,” het ‘n hartseer suster Yolanda du Preez Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Daar is min inwoners van die Soutpansberg wat nie die tweeling ken of onthou nie, veral in rugbygeledere. Die twee woon die afgelope jaar in Kimberley, waar hulle by Siya Zama Konstruksie werksaam was met die bou van die nuwe Royal hospitaal en hartsentrum. Niks kon egter die familie voorberei vir die traumatiese gebeure van die afgelope week nie.

“My broers was op Saterdag, 14 Januarie, by ‘n verjaardagpartytjie langs die Rietrivier in Ritchie. Christo het Beyers se selfoon en identiteitsdokument by hom gehad. Beyers het deur die loop van die aand weggeraak en Christo kon hom, ten spyte van ‘n groot soektog, nie vind nie,” het Yolanda vertel.

Die volgende dag het Christo sy soektog onverpoosd voortgesit. Hy het na elke kliniek en hospitaal gery, totdat hy Beyers in die intensiewe sorgeenheid van die Kimberley Hospitaal gevind het. Beyers het toe reeds ‘n breinoperasie ondergaan weens ernstige kopbeserings en sy een arm was oopgekloof. “Die polisie het ons vertel dat Beyers Sondagoggend omstreeks drie-uur deur ‘n verbyganger op die pad na Ritchie, sowat 1 km van die N12, gevind is. ‘n Inwoner het toe gereël dat hy na die hospitaal gebring word. Omdat hy geen identifikasie by hom gehad het nie, is hy as ‘n onbekende man opgeneem,” het Yolanda gesê.

Met die nuus dat Beyers in die hospitaal opgespoor is, het die familie hulle vanaf Louis Trichardt na Kimberley gehaas. “Daar aangekom was ons totaal verlore, want ons het niemand geken nie. Lede van die plaaslike DA het egter vir ons verniet blyplek gereël en selfs vir ons kos en blomme aangedra. Hulle het selfs saam met ons rondom Beyers se bed vir hom gebid. Sonder hulle sou ons nie reggekom het nie,” het Yolanda gesê.

Beyers sou egter nie weer uit sy hospitaalbed opstaan nie. “Die dokters het alles gedoen wat hulle kon. My boetie is breindood verklaar en op 21 Januarie het hy gesterf,” het Yolanda gesê.

Die Adendorff-tweeling was bekend daarvoor dat hulle alles in hulle vermoë sou doen om iemand te help. “Christo het besluit dat Beyers se organe geskenk moet word, want dit is wat hy sou wou gehad het,” het Yolanda gesê. Feitlik al Beyers se organe kon geoes word. “Te midde van ons hartseer vind ons troos daarin dat Beyers met sy dood vyf ander mense se lewens kon red,” het Yolanda gesê.

Beyers was een van die mees belowende rugbyspelers wat die Soutpansberg die afgelope paar jaar opgelewer het. Reeds op 'n jong ouderdom het hy in 1992 op uitnodiging van die Brive Rugbyklub in Frankryk gaan rugbyspeel. Weens politieke druk het die visumregulasies egter verander en kon hy nooit na Frankryk reis nie. Dit was vir hom ‘n groot teleurstelling, maar dit het hom nie gestop om op tuisfront as rugbyspeler uit te blink nie. So het hy die ou Verre Noord se O/20-, O/23- en seniorspan verteenwoordig. Vir Louis Trichardt het Beyers in twee eindstryde vir die dorp uitgedraf en in 1998 het hy die wendrie teen Tzaneen gedruk. Tydens sy militêre diensplig het hy ook die ou SWD in Oudtshoorn verteenwoordig.

Beyers word eerskomende Saterdag, 28 Januarie, om 11:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk in Louis Trichardt begrawe. Hy word oorleef deur sy ouers Christo en Alida, tweelingbroer Christo, suster Yolanda en jonger broer Mauritz.

Intussen het die polisie in Kimberley ‘n R50 000 beloning uitgereik vir enige iemand wat kan help om die raaisel rondom Beyers se dood te ontrafel.

News - Date: 30 January 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

‘n Oomblik van glorie ... Beyers druk die wendrie vir Louis Trichardt in die eindstryd teen Tzaneen in 1998. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: