ADVERTISEMENT:

 

Meer gevalle van meisies wat hulleself sny kom die afgelope vyf jaar aan die lig.

Brandmaer modelle nie meer die "inding" nie

 

News  Date: 17 March 2006

 

Topmodelle sorg vir hulle gesondheid en kan hulle glad nie met destruktiewe gedrag, soos anoreksie, bulimie of selfverminking vereenselwig nie.

Internasionale model Christina Storm sê dat meisies moet besef dat meisies wat te maer is, nie meer in aanvraag is nie.

“Tien jaar gelede was maer meisies in, maar vandag se modelle staan vir goeie gesondheid, hulle eet genoeg, veral groente en vrugte, en hulle is lief vir hulleself. Kliënte van modelle kyk nie vandag na vyf kilogram oorgewig nie, maar of die meisie goed voel oor haarself.”

Christina is gevra watter raad sy vir meisies het wat sukkel met destruktiewe gedrag.

“Meisies, anoreksie en bulimie is nie cool nie. Kry onmiddellik terapie. Selfverminking is net ‘n tydelike satisfaksie. Hierdie is ernstige afwykings en doen niemand goed nie. Kry dadelik professionele hulp,” sê Christina.

In die geval van Anorexia nervosa verhonger die persoon, gewoonlik ‘n meisie, haarself. In die geval van bulimie eet sy, maar raak van die kos ontslae deur haarself te laat braak. Selfverminking behels herhaaldelike, opsetlike verwonding van die vel met ‘n skerp voorwerp.

Gimnasiuminstrukteur Gerrie Malan sê dat voorkoming die beste is in die geval van eetversteurings. Ouers van ‘n dogter of die man van ‘n jong vrou moet oplet daarna as sy reeds maer is en steeds behep is met haar gewig.

Malan sê dat die kêrels van die meisies nie juis behulpsaam is nie, want dis hulle wat wil hê sy moet in daardie mini inpas.

“Die gevalle wat ek gehad het, was dames wat reeds inrigting toe was en terug. Ek het probeer voorkom dat dit weer gebeur. Hulle het in ‘n mate na my geluister. Ek laat hulle op die skaal klim en hulle mag nie ‘n kilo af wees nie, dan verban ek hulle uit die gym,” sê Malan. Hy sê dat die meisies dink jy lieg vir hulle as jy sê dat hulle maer is.

Een plaaslike berader sê dat anoreksie en bulimie ‘n baie skelm siekte is. Kinders het dit vir baie jare voordat die ouers dit agterkom.

“Dit is gewortel in ‘n baie, baie swak selfbeeld. Hulle dink altyd hulle is vet, lelik en niks werd nie.”

Mense, meestal meisies, wat hulleself sny, haat ook hulself, sê beraders. Sommige skoolberaders en sielkundiges beskou selfsny as die nuwe anoreksie, omdat dit 10 jaar gelede na vorebegin kom het en die afgelope vyf jaar baie meer aangemeld word, volgens die webtuiste van ‘n Amerikaanse skool. Luidens die webtuiste word die snye al dieper en dieper om te kompenseer vir ‘n hoër pyntoleransie en om dieselfde hoeveelheid endorfiene af te skei.

“Die kind kan nie haar emosies hanteer nie, dan sny sy haarself om die emosionele pyn te verlig,” sê een plaaslike ouer wat bereid was om oor hierdie siekte te praat.

“Dit is soos ‘n tydbom in die huis. Dit is seker die grootste hel wat ‘n ouer kan deurgaan en dit is traumaties vir die hele huisgesin.”

Die ouer sê dat self-destruktiewe gedrag by die kind ‘n hulproep is wat ouers nie moet ignoreer nie.

“Die behandeling is ingewikkeld en ouers moet aanhou soek totdat hulle die regte professionele persoon vir hulle kind kry. Ouers moenie hulleself verwyt nie.”

‘n Plaaslike berader sê dat dit goed is as die hele gesin terapie kry. ‘n Kerklike jeugwerker sê dat sy meisies met eetversteurings en ander destruktiewe gedrag aanmoedig om met hulle ouers te praat. Sy sê dat die meisies eintlik wil hulp hê, maar dat hulle wil nie voor enige iemand wil praat nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines