

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 March 2006
Plaaslike skrywer, PJ du Plessis, se kortverhaal Om oor 'n berg te kom is opgeneem in ‘n skoolbundel wat vir al nege provinsies voorgeskryf is.
Om oor 'n berg te kom is die dertigste gepubliseerde kortverhaal uit hierdie vaardige skrywer se pen. Die bundel waarin sy nuwe kortverhaal verskyn, Afrikaans-is-lekker-verhale, is voorgeskryf vir Graad 10-leerders. Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat hierdie nie net ‘n gewone skoolbundel is nie. Elke verhaal is geïllustreer deur die bekende kunstenaar, vader Frans Claerhout.
“Hier vat die skeppings van die woordkunstenaar hande met dié van die beeldende kunstenaar,” skryf samesteller Myicelie Pienaar. Afrikaans-is-lekker-verhale is tans die elfde beste verkoper van opvoedkundige boeke. Die bundel is deur Nasou uitgegee.
Piet du Plessis se verhaal Om oor ‘n berg te kom speel in die Soutpansberg af. In die struggle tydperk word ‘n pa gejaag deur die veiligheidspolisie en hy moet te voet in die nag oor die Soutpansberg vlug. Niemand is bereid om hom op die gevaarlike pad oor die berg te vergesel nie, totdat sy groot-oom Rendani hom in die donker nag oor die berg neem. Die pa se seun besef later dat oom Rendani op daardie stadium stokblind was. “Die boodskappie is dat jy die moeilike kan regkry; jy hoef nie te gaan lê nie,” sê Du Plessis.
Om oor ‘n berg te kom is die enigste verhaal in die bundel wat in die Limpopo afspeel. Sommige van die ander verhale speel ook in spesifieke landsdele af. Onder die ander skrywers tel ook Chris Barnard en Maretha Maartens.
“Die feit dat vader Claerhout die illustrasies gedoen het, maak die bundel vir my waardevol,” sê Du Plessis.
‘n Ander kortverhaal van Du Plessis wat vir Graad 12 in Natal voorgeskryf is, is Lugspieëlings. Sy jeugboeke Where the lions are, wat in die Kruger Wildtuin afspeel en Supertrio, ‘n Afrikaanse avontuurverhaal, is in die Oos-Kaap goedgekeur as voorgeskrewe werke. Die Kansvatter-reeks, ook uit PJ du Plessis se pen, is ‘n besonderse reeks avontuurboeke vir groter kinders waar die leser sy eie avontuur kan kies en die verloop van die verhaal bepaal word deur die leser se keuse. Hy het ook ‘n reeks boeke geskryf wat gebruik word vir die geletterdheidsonderig van volwassenes.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
