ADVERTISEMENT:

 

Met groot opgewondenheid nader twee groepe kinders, wat die afgelope week 515 Eskader van LMB Makhado se jaarlikse kamp vir verstandelik-gestremde kinders, die Oryx-helikopter vir hul beloofde vliegavontuur.

Lugmag trakteer gestremde kinders tydens spesiale kamp

 

News  Date: 17 March 2006

 

‘n Groep van 85 verstandelik-gestremde kinders het vanaf 8 tot 12 Maart die kans gekry om nader kennis te maak met die weermaglewe tydens die hou van 515 Eskader op LMB Makhado se jaarlikse kamp vir verstandelik-gestremde kinders.

Dit is die negentiende keer dat die kamp aangebied word en vanjaar is dit weer by Lianga Lodge gehou. Dié kampe, vanjaar gedoop Kamp Grenspos, het ten doel om kinders met verstandelike gestremdheid ‘n lewenservaring te gee wat onder hulle normale omstandighede nie moontlik sou gewees het nie.

Die kinders, van skole vanaf Vereniging tot Phalaborwa, moes heeltyd op die uitkyk wees vir “terroriste” wat dalk hul grenspos wil inval. Kort-kort het ‘n “terroris” verbygehardloop, met Sammajoor Koos Erasmus al skiettend agterna. Die kinders het heelwat te sê gehad oor Sammajoor Koos se skietvermoë en het deurlopend “raad” aangebied.

Koos het verduidelik dat die kinders met hul aankoms by die kamp tussen onbekende gesigte ingedeel word. Op dié wyse, in ‘n besondere situasie van opgewonde verwagting, maak die kinders nuwe vriende buite hul gewone gemaksone. Dit ondersteun ook verder die element van ‘n weermagkamp.

Leon Haak, ‘n onderwyser van die Hamlet Skool in Johannesburg, het aan die Zoutpansberger vertel dat sulke kampe baie beteken vir gestremde kinders. Hy sê die verandering van omgewing doen wondere vir die kinders. Leon het vertel dat die kinders na die kamp in staat is om dinge te verrig en te doen wat nooit voorheen moontlik was nie. Verder, sê hy, is die kamp ‘n unieke avontuur vir die kinders wat nooit voorheen vir hulle beskore was nie.

As deel van hierdie avontuur is die kinders almal vir ‘n “flip” in ‘n Oryx-helikopter gevat, danksy 19 Eskader wat spesiaal vanaf Hoedspruit gekom het om die kinders se drome te bewaarheid. Die kamp sou natuurlik ook nie moontlik gewees het sonder al die borge nie.

Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor almal wat die projek ondersteun en ‘n verskil maak in die kinders se lewe. Die borge sluit in Lianga Game Lodge, Tafelronde Zoutpansberg 66, die plaaslike Rotary, Arm Haven, Coca-Cola Fortune, Ou Mutual, Leach Printers, Van Dyk, ABC Chickens, Dinnermates, Spur, Vriende van die Lugmag, Soutpansberg Koelkamers, Fruit & Veg City, Die Vleismark, die Suid-Afrikaanse Assosiasie vir Gestremdes, Braambos 4x4 Klub en Herman’s Meats.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines