

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 March 2006
Dit was ‘n vals alarm - die beendere wat op die perseel van die SAPD op Musina opgegrawe is, is nie van menslike oorsprong nie.
Forensiese toetse op die beendere, wat in ‘n opspraakwekkende vonds in ‘n uitgrawing agter die polisieselle aangetref is, toon bo alle twyfel dat die beendere van dierlike oorsprong is.
Die area kommunikasiebeampte van die SAPD op Thohoyandou, kaptein Mashudu Malelo, het vandeesweek by navraag die amptelike bevinding van die forensiese ondersoek bekendgemaak.
Malelo sê die beendere wat aanvanklik gevind was, het ‘n stuk van ‘n kakebeen, tesame met ‘n verskeidenheid ander brokstukke, ingesluit. Wat die vonds aanvanklik verder verdag gemaak het, is die feit dat oorblyfsels van klerasie elders in dieselfde uitgrawing gevind is.
Die kontrakteur, wat besig was met die uitgrawings vir opgraderingswerk by die SAPD, het onmiddellik alle verdere werk gestaak om die vonds aan die polisie te rapporteer vir die nodige ondersoek. Die polisie het ‘n geregtelik doodsondersoek gelas en hooggeplaaste polisie-offisiere, wat die provinsiale- en area-kommissarisse insluit, het die toneel besoek.
Forensiese deskundiges is ontbied om die oorsprong van die beendere te bepaal. Vandeesweek is bekend gemaak dat die stuk kakebeen en die res van die beendere beslis nie dié van ‘n mens is nie. Daar was saagmerke aan sommige van die beenreste.
Die hele gemeenskap was verlede week nog in rep en roer oor die opspraakwekkende beenderevonds, wat gemoedere gaande gehad het, as gevolg van ‘n vorige gru-vonds op dieselfde perseel.
In Maart 1993 is ‘n menslike skedel en ander beendere gevind tydens uitgrawings vir konstruksiewerk naby die plek van die huidige uitgrawings. Die gemeenskap het toe aanvanklik vermoed dat dit die oorblyfsels was van mense wat in die vorige bedeling deur die polisie om die lewe gebring en daar agter die selle begrawe is. ‘n Moorddosier is aanvanklik geopen. Later is vasgestel dat dit die beendere was van ‘n volwassene wat tussen een en vier jaar tevore, vermoedelik aan blootstelling, dood is. Die enigste persoon wat gedurende dié tydperk op die dorp as vermis aangegee is, was ‘n kind.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
